
Dít is mnr. Kevin Lovell, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se reaksie op dreigemente van die Amerikaanse bedryf en sekere politici dat Suid-Afrika uit Agoa gesluit sal word as die land nie sy 14 jaar oue teenstortingstariewe teen ingevoerde Amerikaanse hoender ophef nie. Die Amerikaanse wet oor groei en ontwikkeling (Agoa) verval in 2015.
Luidens ’n berig op www.worldpoultry.net het sen. Chris Coons en sen. Johnny Isakson, albei uitgesproke teenstanders van die tariewe en bekend as die senaat se “hoenderkoukus”, vroeër vandeesmaand ’n brief aan pres. Jacob Zuma geskryf waarin hulle dié dreigement herhaal.
Lovell sê die Amerikaners het die afgelope 14 jaar nie een keer die tariewe by die regte forum, die Wêreldhandelsorganisasie, bevraagteken nie. Vir die SAPV is die algehele skrap van tariewe buite die kwessie. “Hul surplusproduk-uitvoerbedryf is meer as twee keer die grootte van ons hele bedryf,” sê Lovell.
Agoa bied egter vir Suid-Afrika voordele “en as goeie burgers het ons sommige toegewings aangebied” soos dat heel hoender tariefvry ingevoer word. “Hulle toon egter geen belangstelling nie omdat dit sou beteken hulle moet op ’n regverdige grondslag met ons meeding.
“Hulle hou aan praat van vrye handel – ons sê handel kan net vry wees as dit regverdig is. Vir elke 10 000 ton wat ingevoer word, verloor ons sowat 1 000 regstreekse en onregstreekse plaaslike werkgeleenthede.” Die Assosiasie van Vleisinvoerders en –uitvoerders van Suid-Afrika (AMIE) het intussen ‘n beroep op mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, gedoen om in te gryp en die tariewe te verwyder.
Mnr. David Wolpert, hoof- uitvoerende beampte van AMIE, sê Suid-Afrika het die handelsvoordele nodig wat Agoa bied, en moet hoendervleispryse in toom hou deur Amerika billike en redelike toegang te bied. Amerikaanse verbruikers verkies hoenderborsvleis en die res van die hoender moet dus aan ander lande verkoop word.
Volgens Lovell is Suid-Afrika danksy sy goeie bank- en regstelsel en ervare handelaars ’n aantreklike mark, veral ná Amerika se sanksies teen Rusland en die Russiese verbod op kosinvoer uit sekere lande.