
Wit mielies is tot sover vanjaar, behalwe vir 14 700 ton in Mei, alles van Mexiko af ingevoer. Hoewel daar ook wit mielies in die die VSA beskikbaar is, is dit nie GM-vry nie, en kon volgens regulasies van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie ingevoer word nie. Dit het verlede week verander toe sekere van hierdie tipes mielies wel ’n kommoditeitsklaring van die Departement gekry het.
Hoewel GM-mielies nou na Suid-Afrika toe ingevoer mag word, is sodanige mielies aan sekere inperkingvoorwaardes (“containment conditions”) onderworpe.
Die kommoditeitsafdeling van die JSE het vandeesweek ’n kennisgewing aan belanghebbende partye uitgestuur ten opsigte van die fisiese lewering van bogenoemde mielies op Safex. In hierdie skrywe word die spesifikasies van die JSE witmielie-kontrak weer aangehaal: “Maize” means white maize from any origin, of the grade “WM1” as defined in the South African Grading regulations, that meets all phyto-sanitary requirements and import regulations, but is not subject to the containment conditions for the importation of genetically modified organisms.”
Die JSE stel dit gevolglik baie duidelik dat dat hierdie mielies volgens JSE kontrakspesifikasies nie deur verkopers op Safex gelewer mag word nie. Hierdie kennisgewing herinner belanghebbende partye weer aan addisionele maatreëls ten opsigte van dokumentasie wat verseker dat landbouprodukte wat op Safex gelewer word, wel aan die vereiste standaarde voldoen.
Prakties beteken dit dat hierdie wit mielies se prys nie direk van Safex se witmielieprys afgelei kan word nie. Die invoerders (verkopers) van sodanige GM-witmielies sal dus met kopers self moet onderhandel vir ’n prys. Hierdie prys behoort heelwat laer as Safex-witmielies te wees, vanweë die beperkte verhandelbaarheid daarvan.
Dit sal interessant wees om in die komende maande te sien hoeveel GM-witmielies wel in Suid-Afrikaanse meulens gaan beland.