
Vyf
van die ses verdagtes wat dae voor Kersfees in hegtenis geneem is vir ’n
beweerde moord naby Koster in Noordwes sal tot minstens 9 Januarie in
aanhouding bly. Hulle word aangekla van die beweerde moord op mnr. Klaas
Mosimanyana Jobontho (32), van regsverydeling en van die besit van
ongelisensieerde vuurwapens.
Luidens ’n verklaring deur die Noordwes-afdeling van die nasionale vervolgingsgesag is Jobontho tussen 16 en 21 Desember verlede jaar op Koster as vermis aangemeld.
Mnr. Henry Mamothame, woordvoerder van die afdeling, sê op ’n kleinhoewe in die nabygeleë Doornlaagte het van die beskuldigdes die polisie probeer verhinder om die eiendom te betree. Die polisie het meer agterdogtig geraak toe hulle sien hoe mense tussen geboue op dieselfde eiendom hardloop.
“Die polisie het in ’n vertrek tekens van bloed op die vloer en op ’n slaapsak gekry. Nog tekens van bloed het die polisie na ’n pakkamer gelei waar hulle ’n ontbinde liggaam, wat later as Jobontho geïdentifiseer is, aangetref het. Sy hande was vasgebind en daar was aanduidings dat hy ernstig aangerand is. Twee vuurwapens en ammunisie is ook opgespoor.”
Die verklaring noem die verdagtes as mnre. Stefan Nel (54), Donovan Martin (20), Mustafa Albertyn (39), Wayne Schroeder (52) en Adam Barnard (24). Me. Lourene Janse van Niewenhuisen (ouderdom onbekend) is ook in hegtenis geneem, maar is vrygelaat hangende die uitslae van verdere ondersoeke.
Die polisie se ondersoek is nog aan die gang en ’n nadoodse ondersoek sal ook verrig word om die oorsaak van Jobontho se dood vas te stel. Die saak is tot 9 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek en sodat van die die beskuldigdes om regshulp kan aansoek doen. ’n Aansoek is by die kantoor van die direkteur van openbare vervolging in Noordwes ingedien om die saak na die hooggeregshof oor te plaas.
Mamothame sê die vyf verdagtes sal na verwagting om borgtog aansoek doen wanneer hulle in die hof verskyn.
Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het aan Landbou.com gesê die bewoners van die eiendom huur dit. Berigte van ’n siviele regsdispuut tussen die bewoners en die eienaars van die eiendom kon nie bevestig word nie. Sy sê die eienaars van die kleinhoewe het niks met Jobontho se dood te doen nie.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.