
Vyf kernfeite wat jy van beesbrusellose (Besmetlike misgeboorte, of BM) behoort te weet
1. Dit is 'n kuddesiekte! Die siekte bedreig die volhoubaarheid van veekuddes in Suid-Afrika. Diere wat besmet raak mag eers ná drie jaar positief toets maar is intussen nog ‘n gevaar vir mense op die plaas. As een dier in jou kudde positief toets vir brusellose, word die hele kudde as positief beskou en onder kwarantyn geplaas. Dit is omdat die siekte wat deur die bakterie Brusellose veroorsaak word, chronies (langtermyn) van aard is en kliniese tekens lank vat te manifisteer. Diere wat die eerste keer negatief toets, kan dikwels positief toets in ‘n volgende rondte toetse. Daar is geen behandeling vir die siekte nie en alle gevalle moet aan die Staat Veterinêre Dienste gerapporteer word omdat dit ‘n gekontroleerde siekte is.
2. Die siekte raak jou beursie! Beeste wat besmet is mag aborteer, wat beteken dat jy potensiële gesonde kalwers en produksie verloor. Kalf-intervalle is dikwels verleng, wat beteken dat minder kalwers per koei per jaar gebore word. Melkproduksie verminder, wat beteken dat daar minder melk verkoop word (melkerye), of vir kalwers beskikbaar is (vleisbeeste). Tydens kalwing en aborsies word miljoene Brucella-bakterieë in die omgewing vrygestel wat ander diere kan aansteek.
3. Jy kan ‘n ramp inkoop! Dring daarop aan op slegs diere wat van kuddes af kom wat die afgelope jaar negatief vir brusellose getoets het. Eis bewys van die toetsuitslae. Ideaal gesproke moet alle nuut aangekoopte diere eers onder kwarantyn geplaas word voordat hulle met die res van die kudde meng. Moenie die oorsaak van jou eie toekomstige probleme wees nie.
4.Jou gesin en werkers kan siek word! Brucella-bakterieë kan mense ook besmet en koors, griepsimptome en chroniese siekte veroorsaak. Mense kan besmet word deur te help met besmette kalwings, die hantering van besmette plasenta of aborsies, die drink van ongepasteuriseerde melk van besmette diere en deur besmette diere tuis te slag. Mans en vroue se vrugbaarheid kan aangetas word.
5. Inenting is 'n vereiste! Die Dieresiektewet, 1984 (Wet Nr. 35 van 1984) bepaal dat alle verskalwers tussen die ouderdom 4-8 maande ingeënt moet word met ‘n effektiewe, geregistreerde middel (S19 vanaf OBP of RB51 vanaf MSD). Dit versterk ‘n koei se immuunreaksie teen die siekte en help om jou kudde en belegging te beskerm.
* Saamgestel deur die Brusellose-bestuurskomitee van die Nasionale Dieregesondheidsforum.
Vaccinate, Educate, Test (VET)
Sien verspreiding van die siekte (van 2011 tot 2015) op die aanhangsel hieronder.
8 September 2016