
Vyf plase in Noordwes is nou onder kwarantyn geplaas sedert die uitbreking van bek-en-klouseer tussen Potchefstroom en Ventersdorp bevestig is, het Noordwes se department van landbou en landelike ontwikkeling bekend gemaak.
Die departement sê in ’n verklaring ’n gesamentlike operasionele sentrum (GOS) bestaande uit veeartse en verteenwoordigers van die provinsiale rampbestuursafdeling, landbou-unies en die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is op die been gebring om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom. Bloedtoetse word ook op diere op aangrensende plase uitgevoer.
Twaalf beeste van ’n besmette plaas was by ’n veiling betrokke en sowat 217 beeste, skape en bokke wat op die veiling verkoop is, is nagespeur na bestemmings in Gauteng (Vanderbijlpark, Westonaria en Kempton Park), die Vrystaat en Noordwes (Potchefstroom en Ventersdorp). Die name van die kopers is bekend en die veertsenykundige dienste in die ander provinsies is ook besig om toetse te doen.
Die departement waarsku boere om nie hul diere teen bek-en-klouseer in te ent nie. In Noordwes is inenting teen bek-en-klouseer onwettig. Die verkoop van entstof is ook onwettig. Die gebruik van entstof kan net gemagtig word deur die nasionale direkteur van dieregesondheid en net gemagtige staatsamptenare mag dit toedien. Inentings sonder magtiging kan veroorsaak dat die ingeënte diere positief toets en dat kwarantynmaatreëls op die plaas waarop hulle is, ingestel word.
Boere word gevra om tekens van die siekte onmiddellik by ’n staatsveearts aan te meld. Die siekte is hoogs aansteeklik vir diere met gesplete kloue – hetsy hulle plaas- of wilde diere is. Die siekte het geen effek op mense nie en vleis van siek diere is veilig om te eet mits dit op die voorgeskrewe manier hanteer word.
Klik hier vir meer inligting oor vandag se sessie.