
Vyf vermeende renosterstropers is oor die naweek met twee renosterhorings, ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in hul besit by die Leyden-nedersetting naby Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo aangekeer.
’n Klag is Vrydagoggend gelê nadat die karkasse van twee renosterkoeie naby Dorset in die distrik Vaalwater in die veld gekry is. Albei se horings was afgekap.
Sekuriteitswagte op die private reservaat waar die renosters gestroop is, het twee verdagtes op die perseel opgemerk en ’n soekgeselskap bestaande uit polisielede, private sekuriteitsmaatskappye en die Welgevonden-reservaat se sekuriteitspersoneel is saamgestel om die verdagtes se spoor te volg.
Ander polisiekantore in die Waterberg-omgewing is van die voorval in kennis gestel.
Die verdagtes is later die dag deur lede van die Tinmyne-polisiekantoor Noordwes van Mokopane vasgetrek waar hulle met ’n wit Volkswagen Polo met ’n Gauteng-registrasienommer gery het.
Die polisie glo dat die twee renosterhorings wat by hulle gekry van die twee koeie se karkasse af kom. Die vuurwapen wat in hul besit gevind is was toegerus met ’n knaldemper en hulle het nog vyf patrone daarvoor gehad. Daar is ook slagmesse in die voertuig.
Die verdagtes sou in die Mokopane-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook van wilddiefstal (renosterstropery).
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.