
Die Departement van Arbeid het kennisgewings van arbeidsoortredings aan vyf wynplase in die Robertson- en Drakenstein-gebiede uitgereik.
Dit kom ná ’n Deense dokumentêre program die soeklig laat val het op sogenaamde haglike toestande in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Suid-Afrikaanse wyn is gevolglik van sekere winkelrakke verwyder.
Me. Candice van Reenen, departementele woordvoerder, sê hulle doen inspeksies van alle werkplekke, maar ook reaktiewe inspeksies wanneer hulle wenke kry van oortredings. “Dis nie toevallig dat ons op hierdie vyf plase reaktiewe inspeksies gedoen het nie,” het sy gesê.
Sekere praktyke verbied
Al vyf die wynplase wat hulle besoek het, het kennisgewings van oortredings gekry. In sommige gevalle is kennisgewings ook uitgereik wat sekere praktyke verbied.
Volgens haar sal nog vyf tot tien plase gedurende Desember besoek word.
“Ons wil sien of dit geïsoleerde voorvalle is en of die probleme ook in ander areas voorkom. Die inspeksies is onaangekondig, so ons kan nie enige detail gee van waar dit gaan plaasvind nie.”
Ná hierdie inspeksie sal die departement se senior prinsipaal besluit of die oortreders se name bekend gemaak gaan word.
In die eerste rondte inspeksies is veral beroepsgesondheid en -veiligheidsreëls nie nagekom nie.
Beskermende klere
“Daar is byvoorbeeld nie beskermende klere aan al die werkers uitgereik nie en ons het teenstrydighede tussen tydelike en permanente werkers gevind. Die tydelike werkers het nie beskermende klere gekry nie, hoewel hulle aan dieselfde risiko’s as die permanente personeel blootgestel is.”
Van Reenen sê hulle het ook op werkerbehuising afgekom wat nie op standaard is nie. “In daardie gevalle het die inspekteur die boere beveel om die betrokke werkers te vergoed vir aftrekkings vir verblyf wat van hul lone gemaak is. Dit geld vir ’n tydperk van ’n jaar.”
Boere aan wie kennisgewings van oortredings uitgereik is, het 60 dae om dit reg te stel. In die geval waar sekere praktyke verbied word, moet dit onmiddellik gestaak word.
“Dit geld in gevalle waar mense masjinerie gebruik wat lewensbedreigend is, byvoorbeeld iemand wat nie ’n lisensie het om ’n trekker te bestuur nie.”
Nasionale Vervolgingsgesag
Indien die kennisgewings verontagsaam word, sal die gevalle aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig word. “Daar is niks tussen-in nie. Of jy voldoen, of jy word vervolg,” sê Van Reenen.
Sy sê boere het hulle oor die algemeen goed op die plase ontvang en was bereid om met die departement saam te werk.
Intussen het die bedryfsorganisasie VinPro ook sý volle ondersteuning gegee vir die Wes-Kaapse regering se plan om tekortkominge ten opsigte van plaaswerkerbehuising, -gesondheid en -veiligheid reg te stel. Hulle gaan die uitdagings op wynplase saam met die Departement van Arbeid, Wieta, Fairtrade en Agri Wes-Kaap oplos.
Die partye het almal vergader ná die Departement van Arbeid die onaanvaarbare werkerstoestande op sekere wynplase uitgewys het.
Opheffing van plaaswerkers
“Die breër wynbedryf bly toegewyd tot die opheffing van plaaswerkers en waar steeds tekortkominge voorkom, word dit deurlopend as ’n saak van dringendheid hanteer. VinPro bevestig onomwonde dat voldoening aan die wet ononderhandelbaar is,” sê mnr. Rico Basson, besturende direkteur van VinPro.
Volgens hom is die bedryf se reputasie belangrik en kan dit nie oortredings ten opsigte van werks- en verblyfstoestande bekostig nie.
“Ons hou egter vol dat opportunistiese optrede deur vakbonde en media, soos die Deense joernalis Tom Heinemann, niemand baat nie en dat samewerking en die deel van korrekte inligting eerder die gewenste pad vorentoe is.”
Volgens Basson het die Wine Industry Value Chain Round Table (WIVCRT), wat die bedryf, arbeid en regering verteenwoordig, meganismes in plek om probleme aan te meld. Een voorbeeld is die WIVCRT se Rapid Response-eenheid.