
Vanjaar se groot mielie-oes is al ou nuus. Soms laat die doemprofete dit klink asof die mielies vir altyd te veel gaan wees en dat dit die einde van die (mielie)-wêreld is. Hoewel vanjaar se mielie-oes die grootste tot dusver is, was daar ander tye waar die oorproduksie baie erger was.
Die tweede grootste oes nog, 14,7 miljoen ton, is in 1981/’82 geproduseer. Dit was 2,4 keer meer as die verbruik op daardie stadium. Vanjaar se oes is maar ’n skrale 1,5 keer meer as verbruik. En ons dink ons het nou moeilikheid? Hoe moes produsente op daardie stadium gevoel het? Of was dit toe die staat se probleem?
Wat word regtig van die mielies wat in Suid-Afrika geproduseer word? Die verbruik van mielies in Suider-Afrika is meer ingewikkeld as in ander gbiede, omdat wit mielies in verhouding ’n baie groter rol hier speel as in ander dele van die wêreld. Is wit en geel mielies verskillende produkte soos wat koring en gars verskillend is, of is dit dieselfde ding?
Die antwoord is eintlik ’n kombinasie van die twee. Die veevoer- en industri?le mark verwerk gewoonlik geel mielies, maar in vorige jare is soveel as 30% van hierdie mark deur wit mielies gevul. Dit gebeur wanneer, soos vanjaar, wit mielies goedkoper as geel mielies is.
Hoewel ‘n gedeelte van die menslike verbruik van mielies, soos graanvlokkies, net deur geel mielies voorsien kan word, is die oorgrote meerderheid van die menslike mark van wit mielies afhanklik. Vir die binnelandse mieliemark is wit mielies soos ’n muggie en geel mielies soos ’n vlieg. Die muggie kan vlieg, maar die vlieg kan nie muggie nie.
Markgroei
Was daar groei in die binnelandse mark waar wit mielies vir menslike verbruik nodig is? Die binnelande mark word gesien as Suid-Afrika, Namibi?, Botswana, Swaziland, Lesotho en Mosambiek Zimbabwi? word nie op ’n gereelde basis van mielies deur Suid-Afrika voorsien nie.
Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) was die binnelandse verbruik van wit mielies vir die menslike mark 10 jaar gelede (2006/’07) net meer as 3,9 miljoen ton. Vir 2016/’17 was hierdie verbruik 4,8 miljoen ton. Die gemiddelde jaarlikse toename was dus ongeveer 2%, effens meer as Suid-Afrika se bevolkingsgroei. Die per capita-groei het dus min of meer konstant gebly.
Wat het in die ooreenstemmende tyd met die veevoer- en industri?le mark gebeur wat gewoonlik geel mielies verkies, maar tot ’n groot mate ook wit mielies kan gebruik? Verbruik was in 2007/’06 minder as 3,85 miljoen ton, maar het in 10 jaar se tyd met gemiddeld 3,5% per jaar gegroei tot 2016/’17 se amper 5,5 miljoen ton. Dit is duidelik dat die groot groeipotensiaal vir mielies - wit of geel - in die industri?le- en veevoermark is.
Uitvoer verloop goed
Bogenoemde syfers is vir mielies wat kommersieel verbruik word. Produsente gebruik self ook van die mielies wat hulle produseer. Dit is ’n klein gedeelte van die totale produksie, maar groei tog in tye wanneer mielies goedkoop is. Wanneer meer mielies geproduseer word as wat nodig is vir die binnelandse mark, word ’n verdere “verbruikspunt” in werking gestel, naamlik uitvoer.
Uitvoere verloop tot dusver uitstekend, met 200 000 ton wit mielies en net minder as ’n half miljoen ton geel mielies se diepsee-uitvoer. Sal hierdie tempo gehandhaaf kan word, veral by wit mielies? Die binnelandse verbruik van mielies is stabiel en relatief maklik bepaalbaar, maar die groot onbekende is die hoeveelheid mielies wat uiteindelik die land in die ruim van ’n skip gaan verlaat. Tydige inligting hieroor is noodsaaklik vir volgende seisoen se prysbesluite.
Die kombinasie van mielie-uitvoer en volgende seisoen se aanplantings se uitwerking op die mielieprys sal in ’n volgende artikel bespreek word.
* Geskryf deur Johann Strauss, ’n navorser.