
In 2015 het die getal melkboere in Suid-Afrika met 8% gedaal – van 1 782 tot 1 642. Slegs sowat 246 produsente is in die Vrystaat oor.
Dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die MPO, sê in 1998 was daar sowat 7 600 suiwelprodusente landwyd. Hy het by die Vrystaatse MPO-kongres gepraat. Ten spyte van die daling in die getal produsente, neem suiwelproduksie oor die lang termyn steeds toe. Die neiging is te danke aan beter produktiwiteit en 'n toename in skaalgrootte van melkplase, het hy gesê.
Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, sê in sy beginjare was daar sowat 12 000 melkboere in die land, wat 'n jaarlikse produksie van sowat 2,2 miljard liter melk kon handhaaf. Die produksie van die oorblywende groep is tans sowat 3 miljard liter melk jaarliks. Daar is vanjaar 'n effense afname in dié produksievlak weens die verskeie beperkings. "Dit verg 'n totaal nuwe aanslag," sê hy.
Koeikuddes van minstens 300
"Die ondernemer met kleiner koeikuddes van 50 tot 300 diere moet hom aansienlik meer op winsgewendheid toespits om te oorleef. Die gelykbreekpunt vir winsgewendheid is deesdae 'n koeikudde van minstens 300 teenoor die 150 van 'n dekade gelede," sê hy.
Volgens Coetzee is die ekonomie van skaal wat deur toenemend meer melkboere toegepas word, die oorwegende neiging in die bedryf. Produsente is voorts ook besig om hulle produksie onder intensiewe en presisie-boerderypraktyke te bedryf, onder volvoer-produksie en ook onder weidingstoestande. "Selfs die weidingsboere begin om die voeding van hulle diere op individuele grondslag toe te pas. In die geval van volvoer-kuddes, begin boere toenemend van koeibehuising gebruik maak.
* Mnr. Hannes Pretorius van MD Dairy van Ficksburg is een van die produsente wie se melkery te danke aan die skaalbeginsel winsgewend bedryf kan word. Sy groep se melkery is die enigste oorblywende groot boerdery in dié deel van die Oos-Vrystaat.
Insetkoste styg buitensporig
Die afname in melkboere in sy omgewing beteken dat hulle bedingingsmag onder die insetverskaffers ook ongunstig geraak word. "In die afgelope droogtetyd het ons melkery se insetkoste buitensporig gestyg, " sê hy. "Die afgelope tyd was beslis die moeilkste wat ons nog beleef het."
Die MD-groep het sedert 2013 sy produksie van sowat 600 koeie in melk tot 1 200 uitgebrei, 'n syfer wat volgens beplanning oor die komende drie jaar sal verdubbel. "Ons winsgrens het sodanig gedaal dat die melkery slegs winsgewend bedryf kan word deur 'n omset van skaal te handhaaf en die produksie per eenheid te verhoog," sê hy.
“Ons bestuur is hiervoor gerat en die suiwelbedryf is die een waarin ons wil belê. Ons vertrou op 'n blink toekoms, hoewel dit tans baie moeilik is om kop bo water te hou. Ons gaan oor die volgende twee jaar in die verwagte ommeswaai en geleenthede in die suiwelbedryf belê.”
* Lees ook: Heropbloei klop aan suiwel se staldeur