Ná die vrystelling van wetgewing in die vakansietyd, en met pres. Jacob Zuma se uitsprake tydens die ANC se 99ste verjaardagvieringe, meen die TLU SA “dat die skroef in die komende jaar op die boere aangedraai gaan word.”
Luidens ‘n verklaring meen dié organisasie met kommer kennis van die ingrypende konsepwetgewing oor verblyfsekerheid, asook die bepalings wat in die arbeidswet ingeskryf is wat op die landbou van toepassing gaan wees.
“Dit wil nou voorkom of van die knypendste bepalings wat in die uitgelekte Groenskrif bespreek is, in ander wetgewing ingeskryf word. Dit het tot gevolg dat die invloed wat in die Groenskrif beoog is, selfs wyer gevoel sal word aangesien dit in verskeie wette opgeneem word,” lui die verklaring.
Die gevolge
Volgens die TLU SA stem hy met ekonome saam wat van mening is dat Suid-Afrika se arbeidswetgewing in die pad staan van betekenisvolle investering deur die buiteland. Hy meen ook dit staan in die pad van beleggings in die landbou.
Die konsepwetgewing oor verblyfreg kan daartoe lei dat boere nie meer doeltreffend en sinvol sal kan boer nie, en dit plaas ook baie van die plaaslike owerhede se verantwoordelikheid op boere se skouers, meen die organisasie.
Die organisasie sê hy wil in die lig hiervan, die volgende onder boere se aandag bring:
Elke boer wat nog nie deel van die georganiseerde landbou is nie, moet onmiddellik aansluit, aangesien dit ‘n goeie belegging is.
Boere moet sorg dat hulle in lyn is met die bestaande arbeidswetgewing, veral rakende behoorlike dienskontrakte vir alle werknemers, asook ‘n dissiplinêre kode.
Boere moet dringend soek na alternatiewe verblyfmoontlikhede vir werkers, wat ook vir werkers voordelig sal wees in terme van afstande na en die beskikbaarheid van dienste soos klinieke, skole en begraafplase.
12 Januarie 2011