
Die heersende warm, droë weersomstandighede in die sentrale binneland skep die gunstige omstandighede vir ’n brandgevaar in die Vrystaat.
Dié dringende waarskuwing is veral gerig op dele van die Oos-Vrystaat, wat die afgelope weke kwaai deurgeloop het deur veldbrande wat skade van miljoene rand aangerig het.
Ingevolge die waarskuwing van die sambreelorganisasie vir brandverenigings in die Vrystaat, kan die gebiede suid en suid-oos van Bethlehem, suid van Kestell en van Harrismith en rondom Memel weer deurloop.
Mnr. Thinus Steenkamp, voorsitter, sê met die heersende hoë temperatuur en winde van tot meer as 40 km/h wat kan woed, word boere gevra om gereed te staan om enige brande wat kan uitbreek, te keer voordat dit hand-uit ruk en verder groot verwoesting saai.
Mnr. Malcolm Procter, ’n adjunk-direkteur van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê ingevolge die nuutste veldbrand-risiko-aanduiding is veld langs van die hoofroetes deur die provinsie ook ’n brandgevaar.
Volgens Steenkamp is reeds sowat 300 000 ha veld sedert die begin van die winter in veldbrande in die provinsie afgebrand.
In verskillende voorvalle het drie mense ernstige brandwonde opgedoen en nog ’n man is ernstig beseer toe ’n brandbestrydingswatertenk op hom beland het.
Boere se verliese aan weiding, vee en infrastruktuur beloop reeds in die omgewing van R150 miljoen.
Die brandbestrydingkoste beloop derduisende rand, veral nadat vliegtuie en helikopters verskeie keer in onherbergsame dele ingespan moes word . Steenkamp maan mense om waaksaam en versigtig te bly.