Dit word dalk onwettig om mense teen stormweer te waarsku.
Luidens ’n berig in Beeld (12 Januarie 2012) word in ’n wetsontwerp in die Parlement voorgestel dat enige waarskuwing wat sonder die Suid-Afrikaanse Weerdiens se skriftelike toestemming “uitgereik” word, tot tronkstraf of ’n boete van R5 miljoen kan lei.
Mnr. Gareth Morgan, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir omgewingsake, sê dié wetsontwerp is lagwekkend. Dit sal mense ontmagtig om hul medemens teen uiterste weersomstandighede te waarsku.
“As die parlement dié wetsontwerp in die huidige vorm goedkeur, sal dit beteken die Weerdiens sal alle waarskuwings oor weersomstandighede en selfs voorvalle van ernstige lugbesoedeling eers skriftelik moet goedkeur,” lui die berig.
Beskerming
Mnr. Albi Modise, hoofdirekteur van kommunikasie by die Departement van Omgewingsake, sê dié wetsontwerp is daarop gemik om die publiek teen die verspreiding van vals inligting te beskerm.
“Sulke inligting kan paniek veroorsaak. Dit kan selfs daartoe lei dat mense onnodig uit hul huise padgee. As dié wet goedgekeur is, sal dit die Regering in staat stel om op te tree teen mense wat bewustelik of onbewustelik vals en misleidende inligting oor weersake versprei,” aldus Modise.
Baie vrae
Mnr. Johan van den Berg, ’n klimatoloog by Santam Landbou, sê dié wetsontwerp laat talle vrae onbeantwoord. Hy sê die oogmerk met ’n waarskuwing is om moontlike skade en lewensverlies te voorkom.
“ ’n Sentrale burokratiese stelsel kan die reaksietyd vir waarskuwings aansienlik vertraag en totaal ondoeltreffend maak. Die kanaal vir inligtingsverspreiding is ook nie altyd reg nie,” sê Van den Berg.
Van den Berg het ook verskeie vrae oor die defenisies wat in die wetsontwerp gebruik word. Hy sê onderskeid moet getref word wat uiterste weersomstadighede en vals inligting betref.
“Die Weerdiens kan ook ‘vals’ inligting verskaf as daar ’n voorspelling is vir hewige donderstorms wat nie gebeur het nie. Daar was al dikwels voorspellings vir reën wat totaal ‘vals’ was omdat daar nie eens wolke in die lug was nie”.
Hy is ook bekommerd oor die reaksietyd wat aan sulke waarskuwings gekoppel sal word. “Wie gaan die waarskuwing by ’n sentrale sentrum goedkeur?
"Gewoonlik wil niemand verantwoordelikheid neem nie. Hoe lank gaan dit duur om ’n eksterne waarskuwing op ‘n Sondagmiddag goed te keur? Daar moet spesialiste wees wat dit kan evalueer en nie net iemand aan diens wat oproepe beantwoord nie.”
Die spertyd vir kommentaar op die wetsontwerp is Donderdag 12 Januarie 2012. Openbare verhore sal op 17 en 18 Januarie plaasvind.
Bron: Beeld
12 Januarie 2012