Hoewel padgebruikers aangemoedig word om elektroniese skyfies (“e-tags”) vir die Gauteng-tolprojek te koop, waarsku die Vryheidsfront Plus daarteen.
Luidens ’n verklaring sê die party groot verwarring bestaan tans oor of die tolpaaie wel in Februarie volgende jaar ingestel gaan word.
Adv. Anton Alberts, verteenwoordiger vir die party, sê mnr. S’bu Ndebele, Minister van Vervoer, se vroeëre uitspraak dat die projek op ys is, strook nie met sy nuutste verklaring nie. Daarin sê hy dat die stelsel steeds ingestel sal word as geen alternatief vir die finansiering van die opknapping van die pad gekry kan word nie.
“Die Vryheidsfront Plus beskou dit as dubbelpratery en dit skep groter verwarring met die gevolg dat padverbruikers die Regering toenemend wantrou,” aldus Alberts.
Reeds voorstelle
Volgens Alberts het die publiek reeds talle sinvolle, alternatiewe finansieringsmetodes reeds aan die Regering voorgelê. Die voorstelle is gemaak tydens die openbare proses wat vroeër vanjaar gehou is.
Die feit dat padgebruikers ook nou al die “e-tag”-antwoordersender (transponder) kan aankoop om teen ’n laer tarief aangeslaan te word, veroorsaak verdere verwarring, aldus Alberts.
Hy sê dit wek die indruk dat die stelsel wel in Februarie ingestel gaan word en dat die verlengde konsultasietyd wat dié week voorgestel is, net skyn was.
Alberts het ook vrae oor hoe enige verdere prysverlagings wat later aangekondig kan word, op “e-tags” wat nou gekoop word, sal impakteer. “ ’n Situasie kan in die toekoms ontstaan waar die amptelike tarief goedkoper is as die duurder "e-tags" wat nou aangekoop word. Dit sou ’n oortreding van die Wet op Verbruikersbeskerming wees.”
Alberts sê die party raai padgebruikers aan om nie nou al die “e-tags” aan te koop nie, maar om te wag tot in Januarie “om te sien wat die werklike stand van sake is.”
Intussen gaan die party voort met sy veldtog om die tolprojek teen te staan. Alberts sê hulle sal voortgaan om druk op Ndebele te plaas om die stelsel te laat vaar en die geld eerder deur ’n brandstofheffing in te samel.
4 November 2011