
Kommer bestaan dat die landbou rustend telkens wag vir die Regering se volgende plan wat telkens nie uitvoerbaar is nie, onrealistiese verwagtinge skep en ook beleggersvertroue afbreek, sê mnr. Bennie van Zyl, hoof uitvoerende beampte van die TLU SA.
Daarom bied die TLU SA op 11 April ‘n volhoubaarheidskonferensie aan. Enige rolspeler in die waardeketting wat die belangrikheid van die beginsel van volhoubaarheid onderskryf en weet dat dit beteken dat die ekonomiese spelreëls korrek toegepas moet word, is welkom om dit by te woon.
Van Zyl sê in 'n nuusverklaring “indien ons nie self konstruktief en toekomsgerig sterk gaan beïnvloed nie sal ons voortstu op die glybaan wat die ANC vir ons skep wat vir niemand iets goeds inhou nie – allermins vir die mense wat hul beweer hul kwansuis wil help.”
Strategie vir volhoubaarheid
Volgens Van Zyl het die TLU SA oor 'n paar jaar heen 'n Landboustrategie vir Volhoubaarheid ontwikkel as 'n besprekingsdokument, waarin verskeie ekonome en landbou-ekonome en -rolspelers ook bydraes gemaak. Daar mag nog moontlik tekortkominge daarin wees en rolspelers in die waardeketting sal dit met erns moet bespreek om by 'n rigtinggewende dokument uit te kan kom.
Só 'n riglyn sal konstruktief aangewend kan word om seker te maak die regte beginsels sal geld vir die pad vorentoe – 'n benadering wat ook 'n soekende Departement van Landbou kan help om die regte dinge te doen: Dit wat nodig gaan wees om die landbou in al sy fasette te laat leef.
Die konferensie is op Dinsdag, 11 April 2017 vanaf 09:00 tot 13:00 by die TLU SA se hoofkantoor in Silverton.
Die program lyk so:
Opening en verwelkoming – Louis Meintjes, voorsitter, TLU SA
Wat is Suid-Afrika se realiteit vandag? – Prof. André Duvenhage, Noordwes Universiteit
Hoe moet ‘n ekonomie tot by groei gebring word? – Fanie Brink, Onafhanklike ekonoom
Landboustrategie vir Volhoubaarheid – Bennie van Zyl, hoofbestuurder, TLU SA
Paneelbespreking: Fasiliteerder: Chris van Zyl
Paneellede: Andre Duvenhage, Fanie Brink, Louis Meintjes en Bennie van Zyl
Die pad vorentoe en skakeling met die Regering.
* Om te registreer en/of om die konsep Landboustrategie vir Volhoubaarheid-dokument te kry, vra dit aan by sekretaresse@tlu.co.za