
Foto: Philip Hattingh
'n Allemintige prys van R470 000 is vir 'n rasegte Wagyukoei op mnr. Brian Angus van Arlington se jaarlikse veiling betaal.
Mnr. Lourens du Plessis van Thabazimbi het die duurste koei gekoop van die Louma-Boerdery, nóg drie teen R440 000, R410 000 en R395 000 stuk, asook 'n bul teen R210 000 gekoop.
Volgens Angus is Du Plessis ná die aankope nou een van die grootste Wagyutelers in Suid-Afrika. Rasegte, vroulike diere is teen gemiddeld R225 625 stuk verkoop, terwyl bulle gemiddeld R141 250 stuk behaal het. Die hoogste prys vir ‘n F3-kruising vroulike dier was R110 000 wat deur mnr. AK Peer van Kaapstad betaal is. Die gemiddelde prys van F3-kruisings was R100 000.
Angus sê die diere behaal sulke hoë pryse aangesien boere dit as 'n uitstekende belegging beskou omdat die vleis internasionaal uitgevoer kan word en ook omdat die vleis se vet gesonder is as ander diere s'n omdat dit teen 'n laer temperatuur smelt.
Die veiling is deur BKB Louwid Kroonstad aangebied.