’n Aansoek om verlof tot appèl in die Wallmannstal-saak is in die Noord-Gautengse Hooggeregshof van die hofrol geskrap.
Luidens ’n verklaring sê AfriForum die regter het die saak geskrap nadat die grondbesetters, wat die aansoek ingedien het, se regverteenwoordigers nie by die hofsitting opgedaag het nie.
Duisende grondbesetters het sedert Desember 2011 hul intrek op die Wallmannstal-grond geneem. Dié grond is aan die Wallmannstal Communal Propterty Association (WCPA) oorhandig as deel van ’n grondeis. Voor die WCPA hulle intrek op die grond kon neem, het plakkers die grond onwettig betree en huise daar opgerig.
Die hof het op 2 Februarie 2012 opdrag gegee dat die besetters van die grond verwyder moet word.
Maak nie sin nie
Volgens die regter het die aansoek om appèl nie sin gemaak nie, want die hofuitspraak op 2 Februarie was ’n skikkingsooreenkoms.
Die regter het aanbeveel dat die aansoek om verlof tot appèl met koste geskrap word, die artikel 49(11)-aansoek van die staat toegestaan word en die uitspraak van 2 Februarie onmiddellik uitgevoer moet word.
Die staat kan nou die balju kennis gee om met die uitsettingsproses voort te gaan. Die besetters kan hulself nie na die konstitusionele hof wend nie, want die saak is van die hofrol geskrap.
5 April 2012