Grondgrypers in die Wallmansthal-omgewing se bankrekeninge bly gevries tot uitsettingsprosesse afgehandel is, sê AfriForum.
Luidens ’n verklaring het die Noord-Gautengse Hooggeregshof Donderdag (22 Maart 2012) dié beslissing gemaak nadat die grondgrypers die hof versoek het om ’n interdik op te hef. Die versoek is met koste van die hand gewys.
’n Interdik is in Januarie vanjaar toegestaan om die bankrekeninge te vries. AfriForum en die Wallmansthal-gemeenskapsvereniging het om dié interdik aansoek gedoen nadat ’n wegbreekfaksie van die vereniging begin het om van die grond aan besetters te verkoop. Die grond is as deel van ’n grondeis aan die gemeenskap gegee.
Die faksie het glo deposito’s ontvang van lede van die publiek, wat grond in die besette gebied “gekoop” het.
AfriForum het die besonderhede van bankrekeninge verkry en ’n aansoek gebring dat die rekeninge gevries moet word. Sedert die bekragtiging van die interdik is sowat R300 000 uit dié rekeninge na die rekening van ene mnr. Sadiki, ’n landmeter, verskuif.
Appèl
In Februarie vanjaar is ’n uitsettingsbevel deur regter Joseph Raulinga bekragtig, maar die staat het dit nog nie uitgevoer nie, want die besetters het glo ’n kennisgewing van appèl afgelewer.
AfriForum sê hy vermoed die besetters het met dié kennisgewing moontlik die regsprosesse probeer misbruik en die toepassing van die uitsettingsbevel probeer belemmer.
“By nadere ondersoek het AfriForum gevind dat die kennisgewing van voorneme van aansoek om verlof tot appèl slegs op die partye tot die geding beteken is, maar nooit in die hoflêer geliasseer is nie,” lui die verklaring.
AfriForum het die saak na die betrokke regter verwys en verlof tot appèl sal binnekort aangehoor word. Afriforum sal die appèlaansoek teenstaan. As dit misluk, sal met die uitsetting van die onwettige besetters voortgegaan word.
23 Maart 2012