Die Mededingingsappèlhof in Kaapstad het vanoggend drie ministers se appèl rondom Walmart se oorname van Massmart geweier.
Die Mededingingstribunaal het verlede Mei die groen lig gegee vir dié oorname wat op R16,5 miljard geraam word. Dít het beteken dat die wêreld se voorste supermarkgroep vir die eerste keer toegang tot die Suid-Afrikaanse mark sal hê.
Appelleer
Drie ministers het egter teen dié beslissing geappelleer. Dié drie ministers was me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Vissery, mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, en mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling.
Die appèlhof het teen die grootste deel van die Regering se appèl beslis, maar het die ministers wel gelyk gegee aan ’n gedeeltelike appèl van ’n vakbondunie (Saccawu). In dié appèl het die unie daarop aangedring dat 503 werkers, wat vroeër afgedank is, weer aangestel moet word.
In ’n persverklaring sê die Mededingingsowerhede dat dié uitslag as ’n oorwinning vir Walmart beskou kan word. Dié maatskappy het groot planne om in Afrika uit te brei en het reeds aansoek gedoen om ook ’n tak in Namibië oop te maak.
Kenners moet help
Die Appèlhof het verder beveel dat drie kenners wat Saccawu, die betrokke ministeries en die samesmeltende maatskappy verteenwoordig, aangestel moet word. Dié kundiges moet dan binne ’n maand van vandag (9 Maart 2012, die dag van uitspraak) aangestel word.
Twee maande later moet die drie kenners ’n verslag saamstel, wat dan weer aan die hof voorgelê moet word. Dié verslag moet kyk hoe Suid-Afrika se klein- en mediumgrootte handelaars op die beste moontlike manier by Walmart se globale voedselketting betrokke kan word.
Die redenasie is dat die hof wil verseker dat dié samesmelting die beste moontlike ekonomiese voordeel vir Suid-Afrika inhou.
9 Maart 2012