Die Regering se aansoek dat die goedkeuring van die oorname van Massmart deur Walmart hersien moet word, word vandag (20 Oktober 2011) aangehoor.
Regter Dennis Davies sal dié aansoek in die Mededingingsappèlhof in Kaapstad aanhoor. Volgens die Regering is die prosedures wat tydens die tribunal se verhoor oor die oorname gevolg is, gebrekkig.
Kommer heers in regeringskringe oor die hoeveelheid produkte wat plaaslik deur Walmart aangekoop geaan word en wat die uitwerking van Walmart se invoer van produkte op bestaande plaaslike werkgeleenthede gaan wees.
Altesaam drie regeringsdepartemente, die Departemente van Landbou, Bosbou en Visserye, van Ekonomiese Ontwikkeling en van Handel en Nywerheid is by die geding betrokke.
Mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, is veral bekommerd dat duisende werkgeleenthede in plaaslike fabrieke verlore kan gaan as Walmart hul produkte invoer. Walmart sê egter dat sowat 15 000 werkgeleenthede deur die samesmelting geskep gaan word.
Invloed op boere
Intussen is me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, bekommerd oor die moontlikheid dat Walmart goedkoop voedsel die land kan inbring, wat plaaslike boere onder groot druk kan plaas.
Volgens Joemat-Pettersson gaan goedkoop, gesubsidieerde produkte die Suid-Afrikaanse mark binnestroom en plaaslike boere sal nie daarmee kan meeding nie.
Indien die Regering se appèl teen die goedkeuring van die transaksie slaag, sal die transaksie teruggestuur word na die Mededingingstribunaal vir heroorweging.
20 Oktober 2011