
Bykans alle groentebedrywe trek tans ongekend swaar en alhoewel daar steeds relatiewe goeie volumes daagliks verkoop, bly die pryse baie laer as normaalweg, volgens mnr. Charl van der Merwe, ’n groenteboer van die Koue-Bokkeveld.
“Oor dieselfde tydperk verlede jaar het uieboere bo R5.50/kg vir goeie gehalte uie gekry toe die nasionale volume op 600 000 10 kg-sakkies was. Tans is die volume steeds rondom 600 000 sakkies, maar die prys sukkel om bo R35 ’n sakkie te kom.”
Volgens mnr. Ian Grummbacher, ’n direkteur by die landswye slaai-verpakker en verspreider Dew Crisp, is die slaaibedryf ook onder enorme druk. “Tans is produksies normaal, maar die vraag na alle slaaie is verskriklik laag, wat druk op die prys meebring.”
Kleiner aankope
Mnr. Ebrahim Johnson, ’n besigheidsman wat aan gastehuise, restaurante en huisvrouens regoor Kaapstad vrugte en groente voorsien, meen egter die pryse op die mark is steeds te hoog. “Ek koop slegs die topgehalte produkte op die mark, maar my kliënte begin al meer kla oor die pryse, want hulle het bloot nie meer geld nie, maar hulle verwag steeds topgehalte, so hulle bestel eenvoudig kleiner volumes as normaal.”
Me. Lindie Stroebel, bestuurder van PMA Suider-Afrika, meen die ganse groentebedryf gaan tans gebukkend onder baie druk. “Alhoewel groente-uitvoere stadig aan die toeneem is, word die grootste persentasie van plaaslike produksie steeds plaaslik verkoop, maar die verbruiker spandeer al minder geld.
“Dit bring mee dat pryse erg onder druk gekom het oor die afgelope paar maande, in teenstelling met wat in 2016 op groentemarkte gebeur het, toe pryse relatief goed gelyk het en daaglikse verkoop-volume goed was.”
Groenteforum kan groot rol speel
Die beplande Groentebedryfsforum begin stadig momentum kry en teen die einde van Junie sal die stigterslede weer vergader om ’n uitrol-strategie en beplanning te finaliseer.
“Die situasie in die groentebedryf is nog nie op ’n punt van ’n ramp nie, maar boere begin verseker die resessie aan hul kontantvloei voel, wat erge druk op toekomsbeplanning plaas. Dit is juis in hierdie situasie waar kollektiewe besluitneming en samewerking om bykomende koste aan te spreek, soos die inspeksiediens, vir boere tot ’n groot voordeel kan wees,” verduidelik Stroebel.
Grummbacher dink nie die ekonomiese agteruitgang van die land is al ten volle gekwantifiseer nie. “Veral die groentebedryf moet homself voorberei op ’n baie moeilike 18 maande wat voorlê.” Van der Merwe is egter versigtig optimisties oor die komende wintermaande, waar uieproduksie tradisioneel effens afplat en die koue weer die verkope van uie kan laat toeneem en dus die prys effens kan opstoot.
Mnr. Joe Joseph, ’n groente-en-vrugte-winkeleienaar in Khayalitsha, stem saam. “Die kouer reën weer bring gewoonlik mee dat verbruikers meer groente koop, so ek reken binne die volgende twee weke sal die vraag toeneem.”