
’n Ondersoek is aan die gang om vas te stel watter kommoditeite die beste potensiaal het om produkte in die voormalige tuislande te produseer. Só sê mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Volgens die grond-oudit van dié departement het die staat meer as 17 miljoen ha grond in sy besit, waarvan 3 miljoen ha landbougrond van hoë potensiaal in die voormalige tuislande is.
Shabane het gesê sowat 143 000 ha van die miljoen hektaar wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in produksie wil stel, sal in die huidige finansiële jaar in dié gebiede geplant word.
In die Oos-Kaap is reeds vasgestel hoeveel grond is van lae, medium en hoë potensiaal, en van die aanvoorwerk is reeds in Kwazulu-Natal en Limpopo gedoen.
Intussen is die opmeting van staatsgrond langs riviergrense en sekere bergagtige gebiede langs die internasionale grense nog nie voltooi nie.
Adv. Vela Mngwengwe, verantwoordelik vir ondersteuningsdienste vir openbare grond by die departement, sê dié opmetings is nie as ‘n voorkeur geag nie omdat dit nie vir enige grondontwikkeling gebruik sal word nie en die langs die berge is ontoeganklik en het nie enige praktiese gebruik nie.
Altesaam 3,25 miljoen ha staatsgrond is al opgemeet en sowat 13 692 ha word tans deur die opmeter-generaal nagegaan vir goedkeuring.