Die samelewing se gewoontes rondom waterverbruik in Suid-Afrika moet nóú verander om ‘n grootskaalse krisis in die land te voorkom, sê dr. Anthony Turton.
“Ons kan nie te werk gaan soos wat ons die afgelope dekades gedoen het nie. As ons só voortgaan sal ons teen 2030 al die beskikbare water in die land opgebruik. Om nog damme te bou gaan nie die land se waterprobleme oplos nie. Ons moet kyk na nuwe tegnologie, om water te hergebruik en die gebruik van onder meer hidrologie vir energie-opwekking. Die Regering moet ook met ander waterryke Afrikalande begin onderhandel vir waterregte en water uit dié lande,” vertel Turton.
Hy was Dinsdag (21 September) een van die sprekers by die tiende AMT-landbouvooruitskouingskonferensie in Pretoria.
Hoekom nie damme nie?
Turton sê Suid-Afrika se damme se bodems is baie gelyk, wat daartoe lei dat die watermassa teenoor die son gelyk is, en dít lei weer daartoe dat baie water uit damme natuurlik verdamp.
“Hoe meer water daar dus in ‘n dam is, hoe meer gaan natuurlik verdamp. Die Vaalrivier verloor byvoorbeeld meer water per jaar deur verdamping as wat in 11 maande natuurlik daardeur vloei.”
Volgens Turton is 49,2 miljard kubieke meter water natuurlik in die land beskikbaar. Dít word deur die waterstelsels in plek na 59,5 miljard kubieke meter verhoog. “Ons vang reeds 64,4% van die land se totale beskikbare water op, en die vraag is reeds hoër as die aanbod.”
Gevare vir die toekoms
Volgens voorspellings gaan 2013 nie ‘n goeie jaar wees nie. Turton sê na verwagting gaan ‘n erge El Niño-weerverskynsel voorkom, die dreinering van suur mynwater gaan ‘n hoogtepunt bereik, en daarby gaan die wêreld se beskikbare olie dan dalk sy maksimum kerf bereik.
“Tel daarby die moontlikheid dat ons nie genoeg bruikbare water het nie, en dit is ‘n baie slegte jaar.”
Tans, sê Turton, is sowat 60% van die damme nie op standaard nie, en kom ‘n toksiese tip alge in veral vyf damme voor.
“Die damme word besoedel deur ‘n alge bekend as Microcystin. ‘n Wetenskaplike van die Wetenskaplike Nywerheids- en Navorsingsraad (WNNR) het in 1984 al bevind dat Microcystin se uitwerking met dié van ‘n rinkhals se gif vergelyk kan word.
Aksie is nou nodig. Van almal. As ons almal ons water 1,7 keer herwin, kan ons die situasie help red,” aldus Turton.
22 September 2010