
Hy voorsien dat nuwe besproeiingsgebiede suid van die Vaaldam ontwikkel kan word. Plase in besproeiingsgebiede behaal baie goeie pryse, veral in gebiede waar boere twee oeste per jaar kan behaal. Volgens Janovsky sê boere hulle doen ook daar goed met skape op lusern. Hy is wel bekommerd dat watergehalte in sekere gebiede ’n groeiende probleem is.
Janovsky sê grondeise maak baie boere negatief oor landbou, maar dit hou glad nie groot boere terug om grond by te koop nie. Konsolidasie van grond vind deurentyd plaas en grond word dikwels deur konsortiums gekoop, wat onder meer uit ’n familie kan bestaan.
Absa AgriBesigheid se inligting oor plaaspryse berus op waardasies van sy kliënte se grond. Janovsky sê in die verlede het die staat goeie inligting oor plaaspryse gehou, maar dit gebeur nie meer nie. Die pryse wat groot boere betaal, is nie altyd bekend nie omdat hierdie boere gewoonlik regstreeks met ’n eienaar onderhandel en dikwels kontant betaal.
Janovsky sê daar is ook ’n groeiende neiging om plase op veilings of deur tenders te verkoop. In Suid-Afrika is die koop van landbougrond suiwer as belegging nog nie ’n groot neiging nie. Hy sê in Brasilië is daar ondernemings wat met satellietinligting navorsing doen en só onderpresterende landbougrond identifiseer, dit koop, die plaas regruk, en dit dan teen ’n hoër prys verkoop.
Anders as in Amerika is die neiging om grond te koop om dit te verhuur, ook nog nie gewild in Suid-Afrika nie. In eersgenoemde is 60% van landbougrond plase wat verhuur word. Janovsky sê dit is omdat kleiner en mediumgrootte boere in Suid-Afrika grond as kollateraal nodig het om geld te kan leen. Met groter boere kyk banke wel nie net na die grond in die boer se besit nie, maar ook byvoorbeeld na sy potensiaal en omset.