Hoewel watervlakke langs die Vaal- en Oranjerivier tot ‘n mate gestabiliseer het, hou boere hul asem op met nog reën wat tans in die noordelike dele van die land val.
Mnr. Hofmeyr Joubert, voorsitter van Agri Noord-Kaap se watersakekomitee, sê die Oranjerivier se vlak in die Upington-omgewing het gestabiliseer en styg nie meer nie, hoewel dit steeds baie hoog is.
“Die boere wat stroom-op geleë is het darem laat weet dat die rivier stelselmatig begin sak, maar dit sal eers so oor twee of drie dae hier by ons aankom. Ons verwag wel laer vlakke, want die uitvloei by die Bloemhofdam gaan glo oor die naweek van na meer as 2 000 kubieke meter water per sekonde (kumek) na sowat 800 kumek verminder word,” vertel Hofmeyr.
Mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van die Groblershoop- en Grootdrink-omgewing, sê die Oranjerivier se vlak het reeds met sowat agt duim by hulle gesak. “Hy sak egter stadig, en ons wil nie te opgewonde raak nie, want ons weet nie wat nog kan kom nie.”
Aardbewings
Volgens mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, is boere en inwoners van dorpe langs die riviere gewaarsku om op ‘n gereedheidsgrondslag te wees om te ontruim en om op sommige plekke aardskuddings te verwag.
Luidens ‘n berig op South African Weather and Disaster Information Service (SAWDIS) het inwoners van die Augrabies-distrik die afgelope week twee aardskuddings beleef. Die Augrabies-waterval is ook in vloed en sommige voorspel dat tot 5 000 kubieke liter water daar deurbeweeg.
Die see
Intussen hou inwoners van Alexanderbaai ook hul asems op vir die vloedwaters wat dié omgewing oor die naweek sal bereik.
‘n Inwoner het aan Landbou.com gesê dat hulle nie weet waar al die water sal heen gaan nie, aangesien hulle tans hooggety het wat die rivierwater terugdruk. “As dit egter weer laagwater sal word, sal al die water binne drie ure die see in en weg wees.”
14 Januarie 2011