Groot water word Woensdag (2 Februarie) weer by Upington verwag nadat die distrik nog glad nie van die vorige vloede herstel het nie.
Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê die Departement van Waterwese en Omgewingsake voorspel dat die Oranjerivier dan teen 5 000 kubieke meter water per sekonde (kumek) deur die omgewing gaan vloei.
Hy sê hoewel hulle nog nie oor krisisse ingelig is nie, verwag hulle groter skade as tydens die vorige vloede, veral weens die feit dat die meeste noodwalle tydens twee weke gelede se oorstromings beskadig is of weggespoel het.
Sandsakke vir noodwalle
Intussen sê mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van die Grootdrink-distrik naby Groblershoop, hulle bou tans noodwalle met sandsakke waar hulle kan, aangesien die rivier se watervlak weer begin styg het.
“Sowat 80% van my landerye (katoenlanderye en wingerde) is weer onder water, en sedert gisteraand het die rivier seker nog ‘n meter hoër opgestoot,” vertel Van der Westhuizen.
Inwoners van Douglas sê die Vaal- en Oranjerivier se vlakke is besig om vinnig te styg, en na verwagting sal die ou brug oor die Oranjerivier op die Prieskapad later vandeesweekweek totaal onder water wees. Landbou.com het foto’s van die stygende watervlakke oor die naweek ontvang. (Klik hier om na die foto's te kyk.)
Damvlakke
Die vlakke van die damme wat die Oranjerivier die ergste raak, is weereens baie hoog. Van Rensburg sê volgens die departement se jongste inligting is die Vaaldam 107% vol, met ‘n uitvloei van 800 kumek, terwyl die Bloemhofdam 98% vol is met ‘n uitvloei van 1 400 kumek.
Die Gariepdam bars uit sy nate en is 119% vol, met ‘n uitvloei van 2 550 kumek. Dié dam dra by tot ‘n uitvloei van 2 900 kumek by die Vanderkloofdam.
31 Januarie 2011