
Mnr. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het diegene wat waterhulpbronne besoedel, gewaarsku dat sy departement optrede gaan verskerp en dat dit die oplê van boetes gaan insluit.
Mchunu het op ’n mediakonferensie op 22 Maart, Wêreldwaterdag, gesê die departement versnel die bedrywighede van sy teenbesoedelingtaakspan om aan alle watergehalte-besoedelingsprobleme in Suid-Afrika aandag te gee.
“Die doelwitte van die taakspan is om pogings vir die bestuur van waterhulpbrongehalte in Suid-Afrika te koördineer en integreer. Die taakspan sal op ’n hoë vlak leiding gee om die beskerming van waterhulpbronne te verseker en om hulpmiddele uit te wys om die uitwerking van besoedeling te versag.”
Mchunu het gesê die monitor en afdwinging van die nakoming van regulasies rakende besoedeling is een van die taakspaan se belangrikste take. Hoewel beleidsrigtings en standaarde bestaan om besoedeling teen te werk, is daar probleme met die nakoming hiervan.
Die behandeling van huishoudelike afvalwater is die hoofbron van besoedeling. Dit sluit lekplekke in of probleme met die stelsels wat afvalwater na suiweringsaanlegte bring, asook die aanlegte self. Mynbedrywighede is ook ’n belangrike bron van besoedeling.
“Ons het 1 013 munisipale afvalwaterbehandelingsaanlegte in Suid-Afrika en 544 (54%) van hulle het magtiging, terwyl 23% (236) ongemagtig is of onder vervalde magtigings bedryf word. Die departement maak vordering met die verifikasie van die magtingstatus van ’n verdere 141 aanlegte, die oorblywende 14%.”
Die departement het sedert 2014 altesame 598 sake wat verband hou met afvalwaterbehandelingsaanlegte ondersoek, hoofsaaklik weens klagtes deur die publiek. Waar wetgewing nie nagekom is nie, is onder meer administratiewe, siviele en strafregtelike stappe gedoen.
Grondwater belangrike hulpbron
Die tema van vanjaar se Wêreldwaterdag is om “die onsigbare sigbaar te maak”, met verwysing na die bestuur van grondwater. “Namate klimaatsverandering erger raak, sal grondwater noodsaaklik word,” het Mchunu gesê.
Die departement gaan grondwater as alternatiewe waterbron ondersoek om watersekerheid te bring na gemeenskappe waar daar probleme is.
Mchunu sê daar is ’n groeiende neiging dat individue, in reaksie op probleme met waterverskaffing, boorgate sink om hulself van water te voorsien. “Die vinnige koers waarteen dit gebeur, wys hoe veerkragtig en noodsaaklik die grondwaterhulpbron is.”
Grondwater verteenwoordig sowat 13% van die water wat nasionaal verskaf word en in sommige gebiede 100%.
Mchunu het gesê daar is studies wat voorspel dat daar teen 2025, weens klimaatsverandering en ’n styging in vraag na water, te min water in Suider-Afrika gaan wees om in die menslike en ekostelselvraag daarna te voorsien. Dit sal lei tot toenemende mededinging om skaars hulpbronne, beperkte ekonomiese ontwikkeling en ’n afname in menslike gesondheid.
Die ontwikkeling van veerkragtige boerderypraktyke en die volhoubare bestuur van waterhulpbronne is volgens hom van allergrootste belang om die meeste van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vir 2030 te kan bereik.