
Waar dit voorheen tot 300 dae geduur het om watergebruikslisensies uit te reik, sê die departement van water en sanitasie hy is vasbeslote om die spertyd tot 90 dae te beperk.
Die departement sê in ’n verklaring die nuwe spertyd is deel van die regering se strategie om ekonomiese hervorming te versnel deur sy Operasie Vulindlela. Die presidensie en die nasionale tesourie het daarmee begin om dienslewering in verskilllende sektore te versnel. Tegniese hulp is aan die departement verskaf vir ’n plan om die aansoeke vir watergebruikslisensies vinniger te verwerk.
Die departement sê hy werk onverpoosd om aansoeke wat opgehoop het, te verwerk sodat daar by die tydsraamwerk van 90 dae gehou kan word. Volgens mnr. Xolani Zwane, adjunkdirekteur-generaal wat verantwoordelik is vir voldoening, monitoring en evaluasie, was die mikpunt om die opeenhoping van aansoeke teen einde Junie uit te wis, maar die teiken is nie gehaal nie.
“ ’n Totaal van 812 opgehoopte aansoeke is teen 30 Junie verwerk uit ’n mikpunt van 998. Daar is nou nog ’n agterstand van 138 lisensies om af te handel. Ons wil seker maak dat dit teen einde vandeesmaand gedoen is.”
Hy sê in die 2021-’22-boekjaar (April 2021 tot Maart 2022) kon die departement 613 uit 971 gebruikslisensies afhandel, wat ’n sukseskoers van 63% beteken. Net in die eerste kwartaal van die nuwe boekjaar het die departement daarin geslaag om 150 lisensies af te handel teenoor ’n mikpunt van 113. Tot dusver is 37 aansoeke vir die tweede kwartaal (Julie tot September) uit ’n teiken van 252 reeds afgehandel.
Die departement sê om die agterstand uit te wis, is daar ’n studie gedoen oor die faktore wat vertragings veroorsaak en daar was aanbevelings om doeltreffendheid te verbeter. Van dié ingrypings behels bemagtigingseenhede by provinsiale kantore met genoeg personeel wat oor die vereiste vaardighede beskik. Daar is ook gekyk om die aansoekproses meer vaartbelyn te maak en te verseker dat daar minder onderbrekings in die aanlyn aansoekstelsel is wat die aansoeke vertraag.
Zwane sê daar word nog aan die hele proses gewerk. Hy het aansoekers gevra om geduldig te wees terwyl die departement sy bes probeer om aansoeke vinniger af te handel en die opeenhoping weg te werk. “Ons het ook met ’n proses begin waardeur aansoekers per brief ingelig word oor die vordering met hul aansoeke. Die briewe word op dag 45 en dag 80 van die 90-dae tydperk uitgestuur.”