
Die sowat 200 boere in die Gamtoosvallei, wat van water uit die Kougadam vir besproeiing afhanklik is, het pas gehoor week gehoor dat hulle kwota vir die 2017/’18-waterjaar 60% kleiner sal wees.
Dit volg nadat die damvlak tot 18,6% gedaal het, wat dieselfde vlak as in 1991 is. Die vlak het egter vroeg in 1992 tot net 9% gedaal, maar kort daarna begin styg toe oorvloedige reën in die opvanggebied uitgesak het. Van April tot Junie vanjaar is slegs 2 mm reën in die opvanggebied van die dam aangeteken.
In ’n mediaverklaring sê mnr. Tertius Meyer, voorsitter van die Gamtoos-besproeiingsraad (GBR), heers daar kommer oor hoe die drastiese besnoeiing van die waterkwota groenteboere wat langtermynkontrakte met kettingwinkelgroepe het, gaan raak.
“Hulle staan voor die keuse om hulle volle kwota in Julie en Augustus te gebruik in die hoop dat daar reën kom, of om dit drupsgewys oor die volgende 12 maande te versprei.”
Aanplantings afgeskaal
Mnr. Rudolf Rose van Patensie sê waar hy normaalweg 350 ha onder ’n verskeidenheid gewasse verbou, hy in die lig van die beperking dit na minder as 160 ha sal moet afskaal. “Ons sal maar op hoëwaardegewasse met ’n kleiner waterbehoefte fokus.”
Sy buurman, mnr. Jacques du Preez wat reeds 20 jaar boer en hoofsaaklik patats, wortels, mielies en koring verbou, sê hy het reeds besluit om geen mielies in die komende seisoen aan te plant nie, maar die water vir die ander gewasse te gebruik in die hoop om nog ’n redelike oes te maak.
“Sou dit egter teen die einde van die seisoen nog nie goed kom reën nie, het ons geen plan B nie. Baie van ons 40 heeltydse werkers sal geraak word.”
Kanaal
Instandhoudingswerk is tans aan die gang aan die hoofkanaal tussen Kouga- en Loeriedam, wat oor 69 km strek, om enige watervermorsing te voorkom. Die sykanale, wat oor 45 km strek, sal ook van tyd tot tyd vir instandhoudingswerk afgesluit word.
Volgens mnr. Pierre Joubert, hoofbestuurder van die GBR, is die waterverliese vanweë verdamping en lekkasies van 13% in 2008, tot slegs 7,5% vanjaar verminder “Ons doen alles binne ons vermoë om verliese tot die absolute minimum te beperk en bestee jaarliks sowat R23 miljoen op die infrastruktuur wat uit die 1970’s dateer.”