
Besproeiingsboere in die Gamtoosvallei behoort binne drie weke te hoor of moontlike waterbeperkings ingestel sal word, sê mnr. Pierre Joubert, hoofbestuurder van die Gamtoos-besproeiingsraad (GBR).
Die vlak van die Kougadam staan tans op 67%. Die SA Weerdiens het vroeër die week ’n waarskuwing gerig dat hoewel die land in ’n La Niña-fase beweeg, dit nie noodwendig beteken dat groot reënneerslae sal voorkom om opgaardamme te vul nie.
Joubert sê die GBR en Departement van Waterwese sal op 20 September besluit of beperkings ingestel gaan word. “Wat my bekommer is dat ons die afgelope 5 jaar bogemiddelde neerslae in die opvangsgebied van die Kouga-dam gehad het, maar die vier laaste maande was die reënval ondergemiddeld. As dit die begin van ’n droogte is, is ons in groot moeilikheid. Die Departement wou tydens die vorige vergadering in Junie al ’n 30% beperking ingestel het.”
Dink na oor wat jy moet plant
Joubert het besproeiingsboere aangeraai om baie goed na te dink oor watter gewasse hulle gaan plant en verkieslik mielies te vermy.
Hy het die aankondiging van mnr. Athol Trollip, nuwe uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandela Metropool verwelkom dat waterbeperkings in die stad binne twee weke ingestel mag word.
“Ons gaan ’n afspraak met hom maak om te praat oor die verkwisting van water in die Metropool, wat geregtig is op 28% van die water uit die Kouga-dam. Hulle het nie voldoen aan ’n versoek om al verlede jaar in Julie ’n 15% waterbeperking in te stel nie.”
Joubert het vroeër aan Landbouweekblad gesê dit grens aan ’n strafbare oortreding en gewaarsku dat indien die vlak van die Kouga-dam tot so ’n mate daal dat waterbeperkings ingestel word en bewys kan word dat besproeiingsboere in die Gamtoos finansiële verliese lei, sy raad nie sal huiwer om eise teen die metro in te stel nie.