Met al die uitdagings wat die Departement van Waterwese en Omgewingsake in die gesig staar, meen die Demokratiese Alliansie (DA). Me. Edna Molewa, die nuwe minister, moet alle waterlisensies asook aansoeke op die internet publiseer.
Luidens ‘n verklaring sê die party hy meen die publiek het ‘n reg het om te sien wie die land se waterbronne gebruik sodat die persone/instansies vir hulle gebruik verantwoordelik gehou kan word.
Mnr. Gareth Morgan, die party se woordvoerder oor watersake, sê sowat 98% van die land se water is reeds aan gebruikers toegestaan. Hy sê derhalwe moet die nuwe aansoeke deeglik oorweeg word en seker gemaak word dat dié aan wie die regte reeds toegestaan is, dit verantwoordelik gebruik.
Reuse agterstand
Volgens Morgan het die departement bekendgemaak dat dit teen die einde van 2009 ‘n agterstand van 4 318 waterlisensie aansoeke gehad het. Projek Letsema is intussen ingestel om dié agterstand in te haal, en 42 ekstra personeellede is aangestel. Volgens die departement sal dié aansoeke teen 31 Maart 2011 uitgesorteer wees.
Die myn- en landbousektore pas baie druk op die departement toe om te verseker dat die aansoeke afgehandel word, aangesien die sloering dié bedrywe ekonomies skade aandoen. Morgan sê hulle meen dat nie net die tekort aan personeel nie, maar ook die vaardighede binne die departement aangespreek moet word. Om beter deursigtigheid te verseker, hoop hy dat die minister vir die nuwe geldjaar moontlik die internetprojek sal oorweeg.
“Suid-Afrikaners het die reg om te weet hoe water gebruik word en wie dit gebruik. Lede van die publiek, insluitend landbou-, omgewings- en gemeenskapsorganisasies, het ‘n reg om gebruikers verantwoordelik te hou, en om die Regering verantwoordelik te hou waar oortredings begaan word en die Regering nie optree nie,” lui die verklaring.
9 November 2010