
Mchunu het gesê dit is ’n onbillike praktyk om, wanneer grond verkoop word, geld te wil maak uit die verkoop van waterregte. “Dit is soos ’n piramideskema, ons sal dit nie toelaat nie.”
Hy het gesê iemand aan wie ’n waterlisensie toegeken is, maar dit nie meer kan gebruik nie weens sy ouderdom of omdat hy (die grond) verkoop, nie deur die verkoop van die waterreg kan “aanhou geld maak” uit die lisensie nie, terwyl die grond nou deur iemand anders gebruik word. Water behoort aan die departement en nie aan ’n waterreghouer nie.
Mchunu het gesê waterregtekwessie het oor tyd ontwikkel, van die apartheid- na die demokratiese era.
“Waterregte was baie beperk en rasgebaseer, met beperkte potensiaal om die belange te bevorder van diegene teen wie gediskrimineer is, naamlik swart mense. Ons wil transformasie in dié verband versnel.”
Die departement beoog ’n werksessie saam met die watertribunaal, wat 300 uitstaande sake moet afhandel. Die departement kyk ook na ander uitstaande kwessies, veral wateroordragte. Op die werksessie sal die besluit van die Grondwethof, wat gister ’n saak oor die wettigheid van die oordrag en verhandelbaarheid van waterregte aangehoor het, in ag geneem word.
Mchunu het met verwysing na die hofsaak gesê hy reken die saak kon buite die hof opgelos geword het, “as dit nie was vir sommige van die ideologieë wat oor tyd gehandhaaf word nie en die versoeking om geld te wil maak uit ’n lisensie” wat op grond van ’n regmatige rede verkry is, maar waarvan die regmatigheid verval het omdat die betrokke hoeveelheid water nie meer gebruik of benodig word nie.
Mnr. David Mahlobo, adjunkminister, het verwys na mense “wat meer water het as wat hulle nodig het, veral die landbousektor”. Die departement wil hê die sektor moet, deur die gebruik van tegnologie, meer produseer met minder water.
Hy het die Vhembe-distrik as voorbeeld genoem, waar die landbou volgens hom 88% van die water gebruik, myne en nywerhede 7% en huishoudings net 2%. Hy het nie gesê wie die oorblywende deel gebruik nie.
Watergebruik deur huishoudings is volgens Mahlobo ’n grondwetlike reg. “Dit is in die belang van ander gebruikers om te deel. As hulle nie wil deel nie, het die minister alle wetlike magte om te verseker dat ons aandag gee aan die skeefgetrekte toewysing. Ons kan nie aanhou om dié mense te hê wat meer het, terwyl ander niks het nie. “
Vasvat van onwettige damme
Mahlobo het gesê water wat gesteel word, is ’n groot probleem en dat dit veroorsaak word deur mense wat die vloei van water belemmer, hoofsaaklik sommige individue in die landbou.
Hy het Limpopo as voorbeeld uitgelig, waar sekere boere volgens hom onwettige damme gebou het en dit veroorsaak dat gemeenskappe stroomaf van die dam, selfs nadat dit gereën het, steeds nie water het nie.
Mahlobo het gesê die departement se regulerings- en afdwingingstaakspan sal optree en verseker dat die damme afgebreek word. Die departement is ook besig om vermoëns op te bou om “oë in die lug” te hê sodat daadwerklik teen opwettige damme opgetree kan word.
Volgens Mahlobo is daar ook munisipaliteite wat water steel deur meer water te onttrek as waarvoor hul lisensies toelaat.
Diegene wat meer onttrek, sal die geleentheid kry om dit te erken sodat hulle aansoek kan doen om ’n lisensie vir die hoeveelheid wat hulle nodig het.