
Boere in die Molopo-gebied in Noordwes is die josie in vir van hul bure wat verseg om, ondanks die versengende droogte wat die streek teister, hul watergebruik te beperk.
Mnr. Peter Knipe, ’n wildboer van die omgewing, het aan Landbouweekblad gesê sommige boere in die gebied wil nie gehoor gee aan oproepe van die Departement van Water en Sanitasie, asook van medeboere, om hul waterverbruik te verminder nie.
Knipe sê die hoofklagtes teen die boere sluit in dat hulle water van een plaas se boorgate na ’n ander plaas oorplaas. “Die Nasionale Waterwet (Wet 36 van1998) bepaal duidelik dat water nie van een titelakte na ’n ander oorgeplaas mag word nie. Boonop weier hulle om meters op bestaande boorgate aan te bring en word nuwe lande sonder die nodige lisensiëring gemaak.
“Water wat oorspronklik vir veesuipings gebruik is, word vir besproeiing gebruik. Dit veroorsaak ernstige waterskaarstes vir die res van die landbougemeenskap in die omgewing.” Knipe sê die watertafel in die gebied is besig om te daal namate daar uit boorgate besproei word.
“Die meeste boere in die omgewing praat van ’n daling van 20 m tot 40 m.” Hy reken die watertafel op sy plaas het met sowat 20 m gedaal. Intussen het boere in die omgewing self besluit om hul watergebruik met 30% te verminder.
“Die Molopo-gebied se water word deur slegs twee bronne aangevul, naamlik reën en die Molopo-rivier self, wanneer hy wel vloei. Daar is geen ander bron van water vir die omgewing nie,” het Knipe gesê. Mnr. Nic Opperman, direkteur van natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê die groot probleem lê by die Departement van Water en Sanitasie se magte en verpligtinge om waterbeperkings af te dwing.
“Hoewel daar genoeg regulasies oor die onttrekking en gebruik van water binne die wetlike raamwerk bestaan, is daar nie genoeg gesag om dit af te dwing nie. Dit lei tot meningsverskille tussen watergebruikers.”
Hy meen dat die gebruik van boorgatwater waarskynlik nog moeiliker beheer word. “Daar is nie kombersdekking vir die bestuur en beheer van watergebruiksregte nie en in dié stadium doen watergebruikers min of meer wat hulle goeddink. Hoewel diegene wat water misbruik, by die departement aangegee kan word, is die departement, met alle respek gesê, nie in staat om beheer uit te oefen nie.”
Opperman meen ’n oplossing kan wees om tot ’n watergebruikersvereniging te behoort. “Daar sal ’n verpligting moet kom wat watergebruikers dwing om tot ’n watergebruikersvereniging te behoort. As jy nie watergebruik kan meet nie, kan jy dit nie bestuur nie.”
Opperman sê daar is vandeesweek ’n vergadering met belanghebbendes by waterbestuur, insluitende Agri SA en die Departement van Water en Sanitasie, om die kwessie te bespreek.