
Die uitspraak bring ’n einde aan ’n jare lange stryd nadat die departement van water en sanitasie in Januarie 2018 in ’n omsendbrief gesê het waterregte mag nie oorgedra en verhandel word nie.Landbougebruikers het die saak hooggeregshof toe geneem, wat in die staat se guns bevind het. Daarna het boere dit appèlhof toe geneem, wat in hul guns bevind het, waarna die staat na die Grondwethof geappelleer het.
Regter J. Madlanga het die eenparige uitspraak in die hof voorgelees, waarvolgens die hof die staat se appèl met koste van die hand wys. Luidens die uitspraak maak dit staat se vertolking van artikel 25 (1) van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) grammatikaal nie sin nie, naamlik dat die houer van ’n waterreg homself toelaat om water tydelik op ’n ander eiendom te gebruik.
“Wat sin maak, is dat die artikel beteken dat die waterbestuursinstelling die houer mag toelaat, om toe te laat dat sommige of al die water op ’n ander eiendom deur ’n ander persoon, dus ’n derde persoon, gebruik kan word,” sê die regters.
“As die aansoekers se argument korrek was, moet ’n streep getrek word deur die hele artikel 25 (1), omdat daar geen ruimte sou wees vir magtigings buite die voorwaardes van die lisensie soos wat daar in artikel 22 voorsien word nie. Dit sou natuurlik uiters absurd gewees het.”
Oor verhandeling van regte lui die uitspraak dat die Waterwet geen bepaling het wat verhandeling tussen private individue uitdruklik verbied nie. In die uitspraak verwys die regters daarna dat artikels 26 (1) en 29 (2) na die woorde “transaksies” en “vergoeding” verwys. “Hieruit is dit duidelik dat geld van hande mag verwissel.”
Die staat het in sy saak verwys na die klein administrasiegeld wat betaal word vir ’n waterlisensie vergeleke met die groot bedrae waarvoor lisensies verhandel word.
Luidens die uitspraak is dit nie ’n relevante oorweging nie. “Die werklikheid is dat ’n plaas met watergebruiksregte meer werd is as dieselfde plaas sonder waterregte.”
Reaksie
Die landboupartye in die saak sluit boere, boerdery-ondernemings en die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (Saafwua) in. Agri SA het van die boere se regskoste uit sy Vrywillige Waterfonds betaal.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dis 'n baie gunstige uitspraak. "Agri SA het in samewerking met Saafwua 'n instrumentele finansiële en raadgewende rol gespeel." Hy het Agri SA se sentrum vir uitnemendheid rakende natuurlike hulpbronne, onder leierskap van mnr. Janse Rabie, geluk gewens.
Mnr. Francois Joubert van die onderneming Fasken, regsverteenwoordiger vir Saafwua in die saak, het ná die uitspraak gesê hy is baie verlig dat daar ná ’n regstryd van byna drie jaar op die vlak van die Grondwethof ’n eenparige uitspraak is waarvolgens al nege regters van die hof beslis dat artikel 25 van die wet “nog altyd daar was en nog daar móét wees”.
“Die oordrag van water na derde partye is bevestig en waterbeheerliggame en Saafwua kan nou voortgaan met hul werk, soos die wet vereis. Verder is ook bevestig dat ’n mens, kragtens artikel 25 (2), vergoeding kan kry vir iets waardevols waartoe jy ’n reg het.”
Joubert sê wat baie belangrik bly, is dat oordragte deur ’n proses moet gaan en op ministeriële vlak goedgekeur moet word.
“Wat transformasie van waterregte betref, glo ons dit (oordragte) is juis ’n middel, tesame met ander bepalings rakende transformasie in die wet, om water van groot boere na opkomende boere te kan oordra.
“Ons voel die regte uitspraak het geseëvier en ons is baie dankbaar.”
*Klik hier om die artikel wat in die 5-12 Januarie 2023 uitgawe van Landbouweekblad oor onder meer waterregte gepubliseer is, Regulering van waterrregte: Omwetelinge dalk op pad, te lees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.