
’n Trekker wat op waterstof loop, die “NH2™” is op die Nampo-Oesdag deur New Holland uitgestal.
Volgens Northmec is dié trekker, asook die twee trekkerreekse met buitengewoon lae brandstofgebruik, op die Oesdag bekend gestel omdat dit met die jaar se tema van omgewingsvriendelikheid ooreenstem. Die twee reekse is die TD5 en kompakte TT.
Mnr. Ockert Scheepers, produkbestuurder, sê die waterstof-aangedrewe trekker word baie goed ontvang. “Die mense wat na ons stalletjie toe kom, stroom hierheen om die trekker te kom aanskou.”
Hy sê die trekker is nog nie kommersieel beskikbaar nie. Die maatskappy skat dat dit waarskynlik teen 2020 te koop sal wees. ’n Prototipe van die trekker word tans in Labalota, Frankryk getoets.
Toekomsfokus
Volgens Scheepers het die trekker 100 perdekrag of 74kW krag. Die trekker het nie ‘n enjin nie, maar ’n reservoir. Die motor wat die trekker aandryf, skakel deur middel van ’n brandstofsel die waterstof in elektrisiteit om.
Dié trekker vorm deel van die maatskappy se toekomsfokus, aangesien dit geen kweekhuisgasse vrystel nie. Die trekker se bou is op die T6000-model se onderstel gegrond. Die maatskappy het die trekker en projek binne vier maande ontwikkel.
Dít is gedoen om te demonstreer dat die nodige tegnologie beskikbaar is en dat so ’n projek volhoubaar sal wees.
17 Mei 2012