
Gevaarligte flikker al hoe helderder met kommer wat vinnig toeneem dat Suid-Afrika moontlik teen 2050 ’n erge watertekort kan ervaar. Kenners sê as innoverende projekte nie onmiddellik ingestel word nie, kan die land se krane teen dié tyd droog wees.
Verder is opgemerk dat die landboubedryf meerinnoverende maniere sal moet vind om watergebruik te verminder, terwyl dit die hoë vlakke van produksie moet volhou, lui ’n berig in Business Report.
Me. Rejoice Mabudafhasi, Adjunkminister van Waterwese, sê hoewel die landboubedryf in Suid-Afrika sowat 60% gebruik van die water wat vir ekonomiese doeleindes bedoel is, is dít steeds laer as die internasionale norm van 63% tot 65%. Sy sê die departement het wel planne om ’n “katastrofe” teen 2050 te voorkom.
Minder voedsel
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê sowat 25% van die produksie op ’n plaas hang van besproeiing af, en dat dié boerderymetode arbeidsintensief is en dus werksgeleenthede skep. “As jy dit wegvat, kan ons 25% van die land se voedselproduksie inboet.”
Volgens die berig het ander kenners ook uitgewys dat miljoene kiloliters water jaarliks weens swak munisipale dienslewering verlore gaan. Me. Marti Wenger, woordvoerder vir die Demokratiese Alliansie(DA), sê 44 miljoen kiloliter water word jaarliks weens lekkasies tydens oordrag in Limpopo alleen verloor. ’n Verdere rede tot kommer is dat waterverliese sowat 66,5% van die totale gebruik verteenwoordig.
“Die water wat verskaf word, is 17,5% van die water wat vereis word. As 66,5% van die watervoorraad verlore gaan, is die waarheid dat eintlike lewering 5,9% is verteenwoordig van wat vereis word. Dié situasie is onhoudbaar,” aldus Wegner.
Bron: Business Report