Kommer heers tans oor die watervoorraad in die Noord-Kaap en die impak van verhoogde mynbedrywighede daarop, sê Agri Noord-Kaap.
Mnr. Johan van Rensburg, hoof uitvoerende beampte, sê soos wat sake tans aangaan, kan watertekorte in sekere dele ontstaan.
“Ons is nie seker wat om nou te doen nie. Besluite moet geneem word om ’n strategie op te stel vir ’n duidelike pad vorentoe,” verduidelik Van Rensburg. Hy sê volgens inligting word die distrikte Kuruman, Postmasburg, Olifantshoek, Kathu en Hotazel veral deur mynbedrywighede geraak.
’n Plan
Van Rensburg sê die Departement van Waterwese en Sedibeng Water het intussen ’n projek begin om aanvullende waterbronne in Noordwes en die Noord-Kaap te ondersoek.
“Sedibeng Water het Worsley Parsons en Golder Associates aangestel om ’n uitvoerbaarheidstudie te onderneem om te evalueer of daar genoegsame en onderhoubare grondwaterbronne is om die bestaande Vaal Gamagara-massawaterskema aan te vul. As dit bevestig word, sal die grondwaterbronne ontwikkel word,” lui ’n dokument wat aan grondeienaars versprei is.
Die dokument verwys na die groot aantal myne wat in die Noord-Kaap voorkom asook die mynwese se groot aandeel in die provinsie se ekonomiese groei as een van die redes vir die projek.
Dit verwys ook na nuwe myne wat op behoorlike watervoorraad staatmaak. Huishoudings, boere en plattelandse gemeenskappe is grootliks van grondwater vir hul waterbehoeftes afhanklik.
Tegniese veldondersoeke
Die projek sal uit twee fases bestaan. Die eerste fase sal besoeke aan en tegniese veldondersoeke op plase insluit. Hierdie tegniese veldondersoeke kan insluit die:
- “boor van aanvanklike boorgate met hoë opbrengste. Die diepte van die toetsboorgate sal wissel tussen 30 meter en 50 meter, met ’n maksimum van 300 meter in sekere gevalle.”
- “pomptoetsing van nuwe boorgate onder beheerde toesig.”
Raadpleging
Volgens die dokument sal grondeienaars voor die tegniese veldondersoeke geraadpleeg word. “Alle grondeienaars sal persoonlik gekontak word om toestemming te verkry voordat enige tegniese spesialiste hul grond vir veldondersoeke binne studiegebiede van die voorgestelde projek betree.”
Een van die vergaderings met grondeienaars sal later die maand plaasvind.
Van Rensburg sê die gemeenskap is bekommerd oor die bykomende druk wat die projek en nóg myne op die provinsie se watervoorraad kan plaas.”Die Noord-Kaap het ’n ekstensiewe weidingsgebied wat onder druk kan kom.”
* Die dokument wat aan die grondeienaars versprei is, is hier aanheg.
15 Februarie 2012