Die Departement van Waterwese en Omgewingsake kan hom in ’n paar regsgedinge vasloop met sy nuwe dreigtaktiek teen waterverbruikers.
Verskeie boere het briewe van Waterwese ontvang oor “agterstallige rekeninge”. Daarin dreig die departement om hul name op die Kredietburo se swartlys te plaas.
“Dit is ’n geval van gogga maak vir baba bang. Waterwese wil geld invorder en hy weet boere se finansiering vir ’n volgende oes kan daaronder ly as hul name op die swartlys verskyn,” het adv. Jan Saunders, ’n kenner van waterregte, aan Landbouweekblad gesê. Saunders het vroeër by Waterwese gewerk.
Hy meen die fout lê by die departement. “Waterwese se rekeninge is nie behoorlik gedoen nie. Dit word nie gespesifiseer nie en daar is dus geen manier om vas te stel of die berekeninge korrek is nie,” het Saunders gesê.
Landbouweekblad het hom om kommentaar genader na aanleiding van ’n lesersbrief oor probleme met foutiewe rekeninge van Waterwese waaroor hy gedreig word met ’n swartlys en ’n dagvaarding, terwyl die departement herhaaldelik oor die feite ingelig is.
Lees ook:
Miljoene se korrupsie by Waterwese
Saunders sê hy dink soortgelyke gevalle gaan na vore kom omdat daar probleme is ten opsigte van die manier van invordering.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 11 Februarie 2011.
4 Februarie 2011