
Te midde van die droogte het ’n beesboer van Cedarville begin kyk na wat op sy plaas beskikbaar is om sy diere sonder duur voeraankope deur te trek. Wattel was die antwoord.
Sy speurtog op Google het mnr. Braam van Tubbergh op die spoor gesit van die bosse silwerwattel (Acacia dealbata), die lastige Australiese indringer wat voortdurend in hul derduisende oral op sy plaas, Intimi, opkom.
Sy navorsing het gewys die wattel het ’n hoë proteïeninhoud – sowat 9% – en bevat ook vitamiene A en E, maar ongelukkig ook heelwat tannien, wat dit onsmaaklik maak en die verteerbaarheid beperk.
Voer skape en beeste al ses maande
Ná ’n wye leestog oor hoe onder meer Australiese veeboere silwerwattel as voerbestanddeel benut, het hy ’n resep saamgestel wat hy steeds verfyn, maar waarmee hy sy 200 stuks beeste en skape nou al ses maande lank voer, met geen vrektes nie.
Danksy die wattelmengsel, wat hy daagliks vir ál sy diere voer en hom minder as R4 000 per maand kos, kon hy selfs speenkalwers terughou om ’n ent verder te voer voordat hy hulle bemark. Byvoeging van die middel Browse Plus (reg.nr. V11013, Wet 36 van 1947) het die tannien-probleem opgelos deur die mengsel smaakliker en verteerbaarder te maak.
Met ’n klein hamermeul wat hy op sy besoek aan die Nampo-Oesdag op ’n sypaadjie op Bothaville gekoop het, kap hy die gesnyde wattel vinnig totdat dit soos lusern lyk. Hy kies die plante wat die minste tannien het, veral die kleiner boompies wat in ’n bos groei pleks van ’n alleenstaande boom.
Kapproses
Hy vind dat baie van die tannien in die kapproses vervlug. Hy laat lê die gekapte takke tot die volgende dag om verdere vervlugting toe te laat.
Die gekapte takke gooi hy dan in ’n ou sementmenger met ’n 20 liter-drom waarin hy eers ’n margarienbakkie vol van die melasse- neweproduk Kalori 3000-poeier (reg.nr. V2809), ongeveer dieselfde hoeveelheid sout, sowat vier eetlepels Browse Plus en 8 liter louwarm water gemeng het.
Nadat sowat 20 liter gekapte wattel goed hiermee gemeng is, voeg hy nog 20 liter wattel by, asook twee margarienbakkies vol van die fosfaat-aanvulling P12.
Voeg by wat op plaas beskikbaar is
Afhangend van watter diere op die plaas daarmee gevoer moet word, voeg hy dan by wat ook al hy op die plaas beskikbaar het, soos mielies of melassemeel, asook ureum.
Dié mengsel word met nog wattel aangevul totdat dit ’n voersak volmaak – ’n mengsel wat hom nie meer as R35 per sak kos nie. Vir sy skape verminder hy die ureum in die mengsel.
Sy mikpunt is om ’n mikrobesamestelling in sy diere se spysverteringstelsel te probeer vestig wat hulle uiteindelik in staat kan stel om sonder al die bymiddels die jong wattels op die plaas self te bewei en te benut.
Navrae: Mnr. Braam van Tubbergh, sel 082 786 1609; e-pos: ans.tubbergh@gmail.com