
’n Poort tot die wynlande: Dit is wat die webtuiste www.visitwinelands.co.za bied.
Dit vorm deel van ’n nuwe nasionale wyntoerisme-strategie en bemarkingsinisiatief, een van die kerndoelwitte van die wynbedryf se Wise-plan (Wine Industry Strategic Exercise). Wyn en kos gaan hand aan hand met toerisme, wat ’n groeiende bedryf in Suid-Afrika is en bykans 9% tot die bruto binnelandse produk bydra.
“Die platform sal ons help om die toekoms van die wynbedryf tot voordeel van almal te ontsluit,” meen mnr. Rico Basson, besturende direkteur van VinPro.
Lei besoekers
Mobiele toestelle speel ’n belangrike rol in die reis- en ontspanningskategorie en die splinternuwe webtuiste sal reisigers van inspirasie, inligting en selfs ’n besprekingsplatform voorsien. Die webtuiste lei besoekers na die groter, bekende sowel as kleiner wynstreke en -roetes.
“Die doel is om die wyn- en die toerismebedrywe bymekaar uit te bring en ’n groter deel van internasionale en plaaslike reisigers te trek wat kulturele, kulinêre en buitelewe-ervarings wil geniet. Dit sal verseker dat besoekers meer verken as net die welbekende toerismestreke,” lui ’n mediaverklaring.
Verskillende wynroetes
Me. Siobhan Thompson, hoof- uitvoerende bestuurder van Wosa (Wines of South Africa) meen die platform sal aan die verskillende wynroetes ’n kans gee om hul unieke aanbiedinge ’n hupstoot te gee en só help om die ekonomie op ’n plaaslike en landelike vlak te help groei.
Volgens mnr. Tim Harris, hoof-uitvoerende bestuurder van Wesgro, sorg die toerismebedryf vir sowat 250 000 werkgeleenthede in die Wes-Kaap. Die sektor se bydrae tot die waardeketting in die provinsie is ongeveer R3,5 miljard.
“Heelwat van hierdie werksgeleenthede is in die kos- en wynverwante besighede.”