Die Vryheidsfront Plus het ’n webwerf, www.mymunisipaliteit.org.za, geskep waar klagtes oor swak munisipale dienslewering gelê kan word. Dié stap is gedoen om die publiek by te staan met probleme rondom dienslewering en die Wet op Verbruikersbeskerming wat op Vrydag (1 April) in werking tree.
“Ingevolge die Wet op Verbruikersbeskermingswet (Wet 68 van 2008) kan ’n derde party namens ’n groep mense klagtes by die Verbruikerskommissie indien. Die VF Plus beoog om hierdie rol te vervul. Die party het daarom ’n webwerf opgestel waar inwoners hul munisipale klagtes kan registreer,” aldus adv. Anton Alberts, die party se verteenwoordiger vir handel en nywerheid.
Die kommissie kan ingevolge die bepalings van die wet bevindings oor swak dienslewering maak én die bevindings afdwing.
Sommige munisipaliteite uitgesluit
“Hierdie wet kan egter nie gebruik word teen middel- en lae-vermoë munisipaliteite nie omdat die Minister van Handel en Nywerheid, mnr. Rob Davies, hierdie munisipaliteite voorlopig van die Verbruikerswet uitgesluit het,” sê Alberts.
“Die webwerf is ’n platform om belastingbetalers inspraak te gee in die verbetering van dienste wat deur munisipaliteite gelewer word. Daar sal dus teen ’n munisipaliteit opgetree kan word om te verseker dat hy die diens lewer waarvoor betaal word."
"Die Verbruikerskommissie het die mag om pryse vir swak dienste te verminder (artikel 54(2)) en selfs boetes op te lê. Indien geen dienste verskaf word nie, kan die volle bedrag terugbetaal word,” verduidelik hy.
Sannieshof daag Zuma uit
Intussen het Sannieshof se organisasie vir inwoners en belastingbetalers die afgelope week ’n ope brief aan pres. Jacob Zuma gerig om dié dorp te besoek en die jarelange probleme aan te pak. Me Carin Visser, voorsitter van die organisasie, het die brief aan Zuma gerig aangesien die munisipaliteit al ’n jaar lank onder administrasie is, maar nog niks gedoen is om dienslewering te verbeter nie.
Lees gerus Visser se brief wat saam met die berig verskyn.
31 Maart 2011