
Klam weer en reën maak oestyd moeilik in die oostelike dele van die Suid-Kaap.
Mnr. Eduard Koch van die plaas Spioenkop, buite Swellendam, sê die 20% gars wat hy al geoes het, is verbasend goed, maar die 30 mm reën wat aan die einde van September geval het, het die gehalte van die gars wat toe reeds platgesny is, benadeel.
Hy was besig om kanola te oes en in daardie stadium was die gemiddeld 1,2 tot 1,3 ton per hektaar. Soos vele ander boere in die omgewing, is hy verras om te sien hoe goed die oes is ná so 'n droë winter. Hy het van Julie tot September skaars 70 mm reën gemeet, maar reken dat die bewaringsboerderypraktyke wat hy toepas, gehelp het om die goeie somerreën wat hulle laat verlede jaar en vroeg vanjaar gekry het, te bewaar.
Mnr. Kobus Horne van die plaas Pienaarsrivier by Riversdal, het ook al 'n bietjie gars geoes en was besig met kanola toe ek hom gebel het. Hy is baie tevrede met die kanola-opbrengste van 1,5 tot 2 t/ha wat die opbrengsmonitor in sy stroper wys.
Waar hy egter die kultivar Zircon geplant het, is die opbrengs aansienlik swakker. Hy reken ook dat die voorafgaande nat somer gehelp het dat hulle met net 150 mm reën van April af steeds goeie oeste kan afhaal. Omdat sy koring so laat geplant is, sal dit nog baat vind by die 28 mm reën wat hulle aan die einde van September gekry het.
Hael op die laaste Maandag van September het groot skade in die koring-, gars- en kanolalande by enkele boere buite Riversdal en Riviersonderend aangerig.