Groot ontevredenheid bestaan oor opmerkings van me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, oor werkstoestande op kommersiële plase, sê Agri SA.
Me. Elize van der Westhuizen, die bestuurder van menslike hulpbronne van Agri SA, sê die Minister het die afgelope week in die Parlement vrae oor die nakoming van arbeidswette binne die landbousektor geantwoord.
Volgens Van der Westhuizen het die Minister gesê inspeksies is by 1744 werkplekke in die landboubedryf, “insluitend kommersiële plase”, gedoen, en 65% van dié instansies het aan die wetgewing voldoen.
Kommersiële plase
Van der Westhuizen sê in haar antwoord het die Minister spesifiek na kommersiële plase verwys, terwyl die hele landbousektor – wat landboubesighede en opkomende boere insluit – ondersoek is. Die organisasie meen dat dit ‘n verwronge beeld van kommersiële plase en boere skep.
Die organisasie se inligting oor die nakoming van arbeidswette op kommersiële plase verskil aansienlik van dit wat die minister aangehaal het. “Agri SA sal dus ‘n vergadering met die minister oor die statistieke verwelkom, aangesien ons glo dat dit resultate van inspeksies van werkgewers wat nie kommersiële boere is nie, insluit”, sê mnr. Anton Rabe, die voorsitter van Agri SA se arbeids- en maatskaplike komitee.
Geen samewerking van departement
Dié organisasie sukkel glo al vir meer as ‘n jaar om met die departement en die minister te vergader oor arbeidswetgewing en die nakoming daarvan deur kommersiële boere. Van der Westhuizen sê hulle het vroeg die maand weer ‘n vergadering met die departement geskeduleer, maar niemand het opgedaag nie.
“Daar is altyd veralgemening van alle boere doen dit of dat. Ek het verskeie kere al hulle inligting oor die nakoming van arbeidswetgewing binne die sektor aangevra, maar as hulle hoor ek is van Agri SA, weier hulle om dit te gee. Dit is regtig ‘n frustrerende situasie”, sê Van der Westhuizen.
24 November 2010