
Die Stellenbosch-gemeenskap het gisteraand onderneem om belastinggeld terug te hou indien die Regering nie `n plan maak met die vlaag misdaad wat dié dorp en omgewing teister nie.
‘n Buurman van die vermoorde wynboer, mnr. Alberto Costa, het die voorstel aan ‘n vergadering oor geweldsmisdaad in die Stellenbosch-omgewing gemaak wat deur die provinsiale regering, boere en dorpenaars bygewoon is.
Volgens mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, is boere die groep mense in Suid-Afrika waar die meeste moorde gepleeg word. “ ’n Boer wat sy deel gedoen het vir die ekonomie, die gemeenskap en voedselproduksie is nou net ‘n nommer op ‘n moordlys. Nommer 1 651 om korrek te wees.”
Hy sê die koste van ernstige misdaad beloop al 20% van die land se BBP. Hy het voorgestel die sowat 400 000 onwettige vuurwapens wat in omloop is, moet uit die samelewing verwyder word. Van Rensburg het ook ‘n beroep gedoen vir ‘n eenheid wat “24 uur per dag misdadigers genadeloos jag”.
Mnr. Jean Engelbrecht, ook ‘n wynboer op Stellenbosch, het aan mnr. Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van veiligheid en sekuriteit, gevra of hy hom sal “beywer vir die herinstel van die kommando-stelsel vir die beveiliging van ons eiendom en mense”?
Hierop het Fritz geantwoord hulle het ‘n spesiale landelike veiligheidseenheid in gedagte wat soortgelyk aan die kommandostelsel is. “Wat is in ‘n naam? Die spesiale eenheid waarna ons kyk fokus om landelike veiligheid. Dit is meer gevorderd en tegnologies. Elke persoon en plaas vorm deel om misdaad uit te wis,” het hy gevra.
Hy het egter gesê hy is “siek en sat” van beloftes van nasionale regering oor hierdie eenheid, en het aangedring daarop dat dit so gou moontlik op die been gebring word. Costa se buurman, bekend as Gawie, het onder applous gesê:
“My voorstel is dat al die Stellenbossers hul belasting weerhou as hier nie iets gebeur nie. Ons kan die geld in ‘n trustfonds sit en ons eie dorp en omgewing beveilig.” Dit is ook deur die wynmaker mnr. Beyers Truter ondersteun.
“Al beveiliging wat ons het, kom reeds uit ons eie sakke. Ons betaal ook belasting vir die dorp en is deel van die dorp.” ‘n Komitee is in die lewe geroep wat die veiligheidsituasie in die omgewing sal ondersoek. Dit word deur mnr. Bokkie Geyer, adjunk-sweep van die DA, georganiseer. Fritz het gevra dat die eerste terugvoer binne twee weke ontvang sal word.
Mnre. Gerrit van Rensburg (middel), Wes-Kaapse minister van landbou, is in druk gesprek met mnr. Albert Fritz, die Wes-Kaapse minister van veiligheid en sekuriteit, voor die vergadering oor geweld en misdaad op Stellenbosch. Mnr. Bokkie Geyer, adjunk-sweep van die DA, sit langs Van Rensburg. Foto: LUCILLE BOTHA
24 Februarie 2011