
Altesaam 20 verse en een bul is al geskenk vir ’n inisiatief om ’n boer van Noordwes by te staan. Die boer het onlangs 65 van sy 130 beeste verloor nadat hulle deur weerlig raakgeslaan is.
Die karkasse is rondom ’n klipbank teen ’n berg op die boer se plaas gevind. Die diere het vermoedelik gevrek nadat weerlig die klipbank raakgeslaan het. “Die boer bekommer hom nie nou oor die droogte nie, hy het ’n ander krisis wat sy aandag verg,” vertel mnr. Naude Pienaar, adjunk uitvoerende hoof van Agri Noordwes.
Die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (NWRPO) het die inisiatief begin om die boer by te staan om weer op sy voete te kom. Die boer se skade beloop sowat R700 000, met van sy bulle en dragtige koeie wat gevrek het.
Dankbaarheid vir droogtehulpOp die Noordwes Droogtehulp-Facebookblad het Pienaar medeboere aangemoedig om die boer by te staan: “Daar is soveel mense, veral van buite ons provinsie, wat ons ondersteun en dra in hierdie droogte. Meer as 70 vragte voerdonasies is reeds afgelaai. Kom ONS dra hierdie boer deur hierdie bitter moeilike tyd!”
Enigeen wat wil help kan Pienaar by 082 776 8283 bel of die Facebookblad besoek.
Pienaar vertel intussen het die 11-jarige Michaela Naudé ook haar hart en beursie oopgemaak vir die boere wat deur droogte in die provinsie geteister word. “Baie dankie Michaela, vir jou omgee, oproep en die voorbeeld wat jy stel. Jy is sover ons weet die jongste van die 677 mense en instansies wat tot dusver bygedra het. Baie dankie aan jou en elkeen wat so mooi help om 'n pragtige suksesverhaal te skep!”
Die 11-jarige Micheala Naude wat ook haar hart vir Noordwes se boere oopgemaak het.