
Een van die verrassings op Agri Wes-Kaap se kongres was toe mnr. Cornie Swart in sy voorsittersrede onthul het dat genl. Solly Shokwe, die Weermaghoof, aan Agri SA se Algemene Sakekamer gevra het om 'n pad met die georganiseerde landbou te stap.
Swart het uit Shokwe se voorlegging aangehaal: “Ons wil bydra tot die ontwikkeling van landelike ekonomieë deur verbeterde infrastruktuur en dienslewering. Ons wil terreine van samewerking met Agri SA verken. Ons wil ‘n rol speel in die vestiging van nuwe boere deur mentorskapprogramme in samewerking met kommersiële boere. In die toekoms wil ons landbouprodukte in direkte omgewings aankoop om plaaslike ekonomieë só te ondersteun en vir boere ‘n afsetpunt vir hulle produkte te help gee. In ruil vra ons Agri SA se hulp met die ontwikkeling van ‘n plaaslike aankope-model van landbouprodukte en om ons te help om kleinskaalboere te ontwikkel om deel van die waardeketting te word.”
Swart het gesê hierdie was verlede week die woorde van Shokwe oor die weermag se behoefte om ‘n werksverhouding met die georganiseerde landbou in elke provinsie te vestig.
'Dan raak ek optimististies'
“Wanneer die hoof van ‘n land se weermag ‘n deeglike, 80-bladsye aanbieding aan die georganiseerde landbou kom doen en sê ons wil graag partytjie toe kom met oplossings, in dieselfde tyd wat die nasionale regering met beperkende beleidsvoorskrifte en politieke uitsprake nie hond haaraf maak oor die belangrikheid van die landbou as een van die kritieke pilare wat die land standvastig moet hou nie, dan raak ek optimisties en sien ek iewers in die verte ‘n liggie van hoop vir die toekoms van die land, ons mense en die landbou. Dit maak my opgewonde om te weet die landbou staan nie alleen nie, en dat bondgenootskappe uit onverwagse oorde ook kan kom.
Swart het gesê dat die komende seisoen ‘n nuwe bedeling vir die landbou gaan inlui, is gewis. Die uitdagings raak meer, dit raak ingewikkeld, dit gee al hoe minder waarskuwing om vir hulle voor te berei, en die uitdagings beïnvloed ons kerntaak van voedselproduksie.
“As ons enigiets by die ses fenomenale jongboerfinaliste van 2016 geleer het, is dit dat enige struikelblok en uitdaging in ‘n geleentheid omskep kan en móét word. Met die kaliber jongboere wat hiérdie provinsie in sy midde het, wil ek vir u sê ons toekoms is groener as ‘n John Deere-trekker.”
Herstel na El-Niño
Swart het gesê die landbou is besig om stelselmatig te herstel van die skade wat El-Niño die seisoen berokken het, en as die realiteit van die afgelope seisoen boere nie tot orde roep nie, wat sal? "Die landbou het ‘n nuwe sakeplan nodig. Een wat 'n nuwe visie vir die landbousektor daarstel, maar ook 'n plan wat die klimaat gaan skep om deure oop te maak en beleggers na die sektor te lok. Niemand wil belê in 'n bedryf wat nie duidelik kan uitspel wat sy toekomsplanne is nie.
“Dit is binne ons vermoë om Afrika se grootste en ernstigste probleem op te los. Inteendeel, die landbou gaan Afrika se toekoms wees. Terloops, Afrika se sewe ander groot probleme is werkloosheid, siektes, opleiding, elektrisiteit, vermorsing, vervoer en skuiling. Ek sê vanaand vir u dat die landbousektor by meer as net die hongerkwessie 'n reuse-rol gaan speel om die kontinent op 'n pad na die eerstewêreld te sit.”