
Kopers bied weerstand teen varkvleis weens swak snitte en die swak verpakking van varkvleis, het mnr. Pieter de Jager in sy voorsittersverslag op die Kaaplandse Varkprodusentevereniging se jaarvergadering gesê.
“Verbruikers het spesifieke behoeftes oor die soort kos wat hulle eet. Hulle wil weet dat die vleis wat hulle eet, veilig is – van die plaas tot op die bord. Die oorsprong van die vleis moet nagespoor kan word.”
Volgens De Jager het die SA Varkprodusente-organisasie (SAVPRO) die oorspronklike Quality Assurance System verbeter tot die Pork 360-gehaltestelsel om aan verbruikers ’n gehaltewaarborg te bied, asook totale naspeurbaarheid.
Pork 360 is sedert 2012 die enigste gehalteversekeringstelsel wat deur SAVPRO geakkrediteer word. Dit bied aan alle produsente die geleentheid om deel te wees van ’n nasionale gehaltemerk wat aan verbruikers die versekering gee dat die varkvleis wat hulle eet van die beste moontlike gehalte is.
* Die uitvoer van varkvleis moet volhoubaar wees sodat goeie en stabiele markte gevestig kan word, het mnr. Dave Osborne, ’n varkprodusent van Oos-Kaap, op die kongres gesê.
Wat markaandeel vir die uitvoer van varkvleis betref, is daar geen manier hoe die Suid-Afrikaanse varkprodusent kan meeding met ’n land soos Brasilië nie, het hy gesê. “Hulle produksiestelsels en arbeid is baie goedkoper as ons s’n. Ons sal alles moet probeer om varkvleis goedkoper in Suid-Afrika te produseer.”
* Vanjaar word sowat R4,2 miljoen – oftewel 20% van die statutêre heffing – aan die ontwikkeling van opkomende boere bestee, het mnr. Simon Streicher, uitvoerende hoof van SAVPO, gesê. Dit gaan grootliks vir opleiding en mentorskap aan dié boere.