
Volgens mnr. Johan van den Berg van Santam-landbou sal ’n moontlik verswakte of afwesige El Niño-weerpatroon in 2017/’18 normale of beter as normale produksietoestande meebring.
Van den Berg het op die Noord-Kaapse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Kimberley gesê die klimaatspatroon het reeds begin verander. “Dit beteken goeie nuus vir boere, maar ’n goeie mielie-oes beteken ook laer produsentepryse,” sê hy.
Volgens hom is die reënval in die sentrale tot die oostelike deel van die land in ’n neutrale El Niño-toestand betreklik hoog, of minstens ’n normale gemiddeld. “Die westelike deel van die land kan ietwat droër wees. Dit is egter nog vroeg in die seisoen,” sê hy. “Groter sekerheid sal eers teen Augustus verkry word.”
El Niño is die weerpatroon wat veroorsaak word deur die verwarming van die oppervlakwater in die Stille Oseaan tussen Suid-Amerika en Australië. Van den Berg sê al is dit ver van Suid-Afrika, raak die invloed daarvan op die boliggende weerstelsels soos telekonneksies, die weerpatrone in die Suidelike Halfrond.
Mielies uitvoer
Met verwysing na vanjaar se gunstige plaaslike mielie-oes van sowat 15,5 miljoen ton, het prof. Johan Willemse, ’n landbou-ekonoom, gesê die oorskotvoorraad kan sowat vyf miljoen ton beloop. “Dit sal moeilik gaan om drie miljoen ton daarvan te kan uitvoer, wat meebring dat die oordragvoorraad na die nuwe bemarkingstyd twee miljoen ton kan beloop,” sê hy.
“Indien die produksietoestande normaal verloop, verwag ek laer mieliepryse oor die volgende twee tot vier jaar wat die veeberyf sal bevoordeel,” sê hy. “Oor die algemeen gesien, is dit sleg vir die mielieprodusent, maar die totale landbou-ekonomie baat daarby.”
Wat van rooivleis?
Volgens Willemse kan die rooivleisbedryf sy markaandeel weens dalende volumes verloor omdat die prys van rooivleis na verwagting so hoog gaan styg. “Oor drie of vier jaar wanneer die veesiklus met ’n verhoogde aanbod verander, kan dit beteken dat die goedkoper vleis die markaandeel van rooivleis weggekalwe het.”
Willemse het die rooivleisbedryf daarop gewys dat baie te doen is om aan die fitosanitêre en naspeurbaarheidsvereistes vir uitvoer na China te voldoen. “Groot rolspelers in die bedryf is van mening dat die verwagte vleisuitvoer na China net wensdenkery is. Benewens die geleentheidsuitvoer van vleis, het Suid-Afrika nog nie die prima-uitvoermarkte betree nie,” sê hy.