
Skade-opnames word tans in die Oos- en Suid-Kaap gedoen ná reënskade in dié dele, en terselfdertyd word veeboere in dele waar reën nog nie geval het nie, genoodsaak om vee te verkoop.
Mnr. Jaco Maré, tweede ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê hy moes dié week vir die eerste keer vandat hy boer, verse verkoop.
“Ek het nog nooit nodig gehad om verse te verkoop nie, dit raak nou regtig ’n krisis en ons het vinnig reën nodig,” vertel Maré. Hy boer naby Hartebeesfontein in Noordwes en sê die gebrekkige weiding is nie net ’n gevolg van droogtetoestande nie, maar ook van veldbrande wat in die omgewing voorgekom het. Hy meen dié probleem sal ook in ander dele van die land voorkom waar dieselfde gebeure afspeel.
Ergste in 42 jaar
Mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri Noordwes, sê dit is die moeilikste winter en lente wat hy nog in sy 42 jaar as ’n boer beleef. Hy boer naby Wolmaransstad. Volgens hom is voer tans uiters skaars, en as jy dit kry, is dit onbekostigbaar duur.
Reën het reeds oor die oostelike dele van die provinsie uitgesak, en Van Vuuren sê weiding in dié dele lyk wel beter. “Ons wag dus vir noemenswaardige reën en ons hoop dit kom gou.”
“’n Ander probleem is die feit dat baie boere hul vee teruggehou het terwyl hulle gehoop het op reën. Nou is dié diere se kondisie swakker, wat beteken as hulle nou sou verkoop, hulle redelike verliese kan ly,” vertel Van Vuuren.