Die skaarste aan weiding is besig om in ’n krisis te ontaard. “Dit gaan ’n bitter lang winter wees” sê die Rooivleisprodusente-organisasie in die Vrystaat (VSRPO) en Agri Noordwes.
Mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van Agri Noordwes, sê weiding is tans baie skaars en baie duur.
Hy sê die reënval van die afgelope seisoen was nie genoeg om die honderdduisende hektare veld wat verlede jaar in veldbrande in die provinsie in die slag gebly het, te laat herstel nie. Verder het die reën wat plek-plek voorgekom het, tot droogtes en swak weiding in sekere dele gelei.
“Dit is ’n wesenlike probleem en baie boere ly daaronder,” aldus Van Vuuren. Dele in die Kalahari in Noordwes het wel tot 500mm reën aangeteken, en Van Vuuren sê weiding in dié dele lyk baie goed.
Kleiner kuddes
Intussen sê mnr. André Ferreira, voorsitter van die VSRPO, die aankoop van voer vir diere is tans weens die hoë pryse nie ’n uitweg wat baie boere oorweeg nie. “Die oplossing wat baie boere volg, is om hul kuddes te verklein, en dít veroorsaak verdere kommer oor vleispryse aan boere.”
Hy sê die enigste deel met goeie weiding in die Vrystaat is die omgewing suid van Edenburg tot by Aliwal-Noord. “Die oostelike en westelike dele het bitter min weiding. Die weiding lyk baie, baie sleg. Dit gaan ’n bitter lang winter wees.”
Vleispryse aan boere het die afgelope paar maande drasties gedaal. Ferreira sê ’n boer kry tans sowat R1 500 minder per kalf vergeleke met verlede jaar se hoë pryse. Die prys per kilogram vir ’n speenkalf is tans sowat R15,30.
“En dit bekommer ons steeds dat die kleinhandel dié dalings nie aan verbuikers deurgee nie, maar in sommige gevalle selfs hul pryse opstoot!”
22 Mei 2012