
Jagtogte, vakansies en kontantpryse kan weer gewen word in die Privaatskool Excelsior by Aroab in Namibië se jaarlikse veldtog om geld vir die skool se voortbestaan in te samel en ander skole by te staan.
Verlede jaar het die skool R161 480 ingesamel om onder meer ouers te help wat weens die versengende droogte nie skoolgeld kon betaal nie. Elke ouer van die skool kon kaartjies verkoop om kommissie te verdien om sodoende hul skoolgeld te help betaal.
Me. Charlene Lombard, een van die organiseerders, sê die meeste dele van Namibië het mildelik reën ontvang, “maar verpligtinge teenoor ons kinders en skool bly een van ons grootste prioriteite. Die jagboekie-projek is weer ’n belangrike hulpmiddel in die bestuur en beskerming van ons skool vir die toekomstige generasies.”
Enige persoon of instansie soos ’n skool se sportspan kan deelneem om geld vir ’n projek met die kommissie op kaartjieverkope in te samel. Verlede jaar het Suid-Afrikaanse skole ook deelgeneem.
Mense kan aan drie afdelings deelneem; jagte, vakansies of kontantpryse. In die afdeling vir jagte is vyf pryse op die spel, met die eerste prys ’n bees, twee stuks grootwild, ses springbokke en twee skape.
Drie vakansies is op die spel, bestaande uit een tot twee nagte by verskillende gastehuise in Namibië.
Daar is drie kontantpryse van onderskeidelik R20 000, R10 000 en R5 000 wat by bepaalde handelaars bestee kan word.
Die kaartjies kos R50 elk. Die trekkings vind plaas op 5 Mei.
Die skool is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat elke jaar probeer om genoeg geld met projekte in te samel om die skoolgeld so laag moontlik te hou en die terrein in stand te hou.
Navrae: +26481 401 2548, clombard570@gmail.com